GUSTAV PRELLER BESLUIT TEEN EMIGRASIE NA ARGENTINIË

Ná die oorlog kon Milner ’n tyd lank deur sensuur en krygswetregulasies die stigting van ’n Afrikanerpers teenwerk. Oorsese nuus kon nie vryelik die land binnekom nie en die gevangenskap van redakteurs soos FS Malan in die oorlog was nog vars in die geheue van joernaliste. Laat in 1902 het Milner Eugène Marais toegelaat om sy ou koerant Land en Volk weer in Pretoria te laat verskyn in die hoop dat die blad die Boere sou versoen met sy Transvaalse beleid. As redakteur het Marais iemand aangestel wat binne ’n kort tyd een van die kultuurleiers van die Afrikaners sou word: Gustav Preller, ’n gebore Transvaler wat voor die oorlog werksaam was in die departement van mynwese. Met die uitbreek van die oorlog het hy aangesluit as vrywilliger, en ’n dagboek in Nederlands gehou. Op 10 Januarie 1902 is hy en ’n paar ander Boere gevange geneem met die woorde: “Hands up, you f** Dutch bastards!”

Met sy terugkeer van ’n krygsgevangenekamp in Indië in Augustus 1902 het hy in ’n oomblik van moedeloosheid besluit om, soos ’n paar ander Afrikaners, te emigreer na Argentinië. Marais, wat weens sy gesondheid nie sy koerant kon redigeer nie, het op aanbeveling van ’n wedersydse vriend die redakteurskap aan die 27-jarige Preller aangebied. Met welslae het hy op Preller se volksgevoel gewerk en hom oorgehaal om in Transvaal te bly.

Marais het egter Milner van waardevolle vertroulike inligting voorsien oor geld wat dr. WJ Leyds, gewese staatsekretaris van Transvaal en in die oorlog Transvaalse gesant in Europa, in die geheim uit Nederland aan Boereleiers gestuur het. Daarmee is koerante versterk wat die Boeresaak sou dien en Afrikaanse nasionale aspirasies propageer. Milner het sy mag gebruik om die herverskyning van De Volksstem tot 11 Maart 1903 te verbied. Ook het hy geheime staatsgeld bestee om Land en Volk te subsidieer. Dié blad het van 20 September 1902 weer verskyn.

Maar die patriotiese jong Preller sou nie Milner se beleid propageer nie. Van die eerste nommer van Land en Volk het Preller die Britse owerheid geïrriteer. Na ’n hoofartikel oor verraaiers is hy bowendien deur genl. JC Smuts, toe praktiserende advokaat, uitgenooi en hoor hy by hom die eerste keer van “konsiliasie” en ’n nuwe sienswyse: “Ons moet vergeet en vergewe, nie alleen ons eie mense nie – hulle allereers – maar ook die Engelse. Dit is die enigste uitweg.” Transvaal het baie Engelssprekendes gehad en Botha en Smuts het gematigde Engelse se steun nodig gehad in ’n toekomstige verkiesing. Reeds al om dié rede was konsiliasie vir hulle noodsaaklik. Om die joiners te vergewe, was miskien vir die bittereinders die ergste. Die joiners het dit self nie maklik gehad nie. Baie moes voor die gemeente hul sonde van verraad bely voordat hulle weer tot die Nagmaal toegelaat is.

Smuts en Botha was geskok toe Milner se plan in 1903 rugbaar word om Chinese arbeiders vir die myne in te voer. Botha, wat al meer na vore getree het as Transvaalse leier, het gevoel dat hy ’n koerant as spreekbuis nodig het. ’n Goeie aanbod is aan Land en Volk gedoen, maar Marais het teenoor die owerheid onderneem om die blad nie te verkoop nie. Dr. FV Engelenburg het op aanbeveling van Botha toestemming gekry om De Volksstem weer uit te gee, en Preller het daar ’n pos as subredakteur verkry.