6 SEPTEMBER
GEBEURE
1880 – Stadsraad van Bloemfontein
Die eerste werklik volwaardige stadsraad van Bloemfontein vergader op hierdie dag. Die raad het uit tien lede bestaan.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Britse troepe onder genl. Buller beset Lydenburg
1914 – Afrikanerrebellie
Manie Maritz verlaat sy hoofkwartier op Calvinia om bevel te voer oor die twee kampe van die Aktiewe Burgermag by Upington en Kakamas.
Koos de la Rey loop vir oud-generaal Tobias Smuts op die Johannesburg-stasie raak. Skynbaar het De la Rey hom toe probeer oortuig om in die parlement teen die regering se inval in Duitswes-Afrika in te stem. Jan Smuts self het later getuig dat De la Rey hom by hierdie geleentheid gevra het om in die nabye toekoms by hom aan te sluit in ’n opstand teen die regering.
1939 – Tweede Wêreldoorlog: Suid-Afrika verklaar oorlog teen Duitsland
1958 – Opening van die Aula, Universiteit van Pretoria
Reeds in 1930 het die gedagte ontstaan om by die Universiteit ’n saal te bou waarmee die Voortrekkers in die Eeufeesjaar 1938 vereer kan word. Gebrek aan fondse het die uitvoering van die grootse gedagte egter in die weg gestaan. Met die groei van die Universiteit, het die behoefte aan ’n gehoorsaal en ’n studentesentrum al groter geword en het die studente begin om op hulle eie wyse geld vir die doel in te samel. In 1951 is die firma van mnr. Philip R Nel benoem om planne vir ’n gehoorsaal en ’n studenteontspanningsaal op te stel. Sy skema kon as gevolg van ontoereikende fondse eers in 1956 verder gevoer word toe ’n tender vir die oprigting van die bouwerk aanvaar is. Nagenoeg twee jaar later is die gebou voltooi en op 6 September 1958 deur die toenmalige goewerneur-generaal, dr. EG Jansen, geopen en ingewy met ’n konsert van Mimi Coertse. Die ingebruikneming van die Aula, voortreflik beplan en ingerig met sitplek vir 1100 mense, het sedertdien met opera, sang, drama, simfonie, ballet en klavier van die beste kunstenaars in die wêreld gelok en die kultuurlewe van die Universiteit in die besonder en Pretoria en omgewing in die algemene, geweldig gestimuleer.
1989 – Laaste algemene verkiesing in die ou Suid-Afrika
Met die laaste algemene verkiesing in die ou Suid-Afrika wen die Nasionale Party 89, die Konserwatiewe Party 39 en die Demokratiese Party 33 setels.
GEBOORTES
1852 – Schalk Willem Burger, advokaat, politikus en waarnemende president van die ZAR van 1900 tot 1902 († 5 Desember 1918)
Schalk Willem Burger is op Krugerspoort, Lydenburg, gebore. Sy grootvader was JJ (Kootjie) Burger, wat volgens oorlewering die Traktaat tussen Piet Retief en Dingaan opgestel het. Burger was agtereenvolgens Boeregeneraal en waarnemende president van die ZAR, vise-voorsitter van Het Volkparty, voorsitter van die Transvaalse tak van die Suid-Afrikaanse Party en Transvaalse Senator na die Uniewording. Polities gesproke was hy gematig, maar by tye weifelend; tog moet sy rol in die heropbou van Transvaal na die Anglo-Boereoorlog nie onderskat word nie. Hy is op 5 Desember 1912 op Goedgedacht, Krugerspos, oorlede.
STERFTES
1918 – Johan Frederik (JF) van Oordt (D’Arbez), skrywer (* 20 November 1856)
Johan Frederik van Oordt is op 20 November 1856 in Kaapstad gebore en op 6 September 1918 aldaar oorlede.
Hierdie oudste seun van die redakteur van 𝘏𝘦𝘵 𝘝𝘰𝘭𝘬𝘴𝘣𝘭𝘢𝘥 vertoef van ongeveer sy tweede jaar af tot sy 17de in Nederland waar hy skoolgaan. Na sy terugkeer word hy in 1875 onderwyser aan FD Changuion se Instituut op Swartland, die latere Malmesbury.
Die graad BA verwerf hy in 1877 aan die Universiteit van Kaapstad, asook die eersteklas-onderwysdiploma. Nou begin sy wydvertakte loopbaan – eers as onderwyser op Richmond, daarna as hoofonderwyser op Fauresmith, en ’n jaar later as klerk in die kantoor van die ouditeur-generaal in Bloemfontein. Hy studeer in die regte en slaag in 1882 in sy advokaatseksamen. Vervolgens praktiseer hy as prokureur op Kroonstad en in 1885 word hy mynkommissaris op Roodepoort. Hy was ook prokureur op Heidelberg, Transvaal. In 1891 keer hy terug na Richmond, en word daarna prokureur op Britstown. Na sy vader se dood in 1904 gee hy lesings in moderne tale aan die Suid-Afrikaanse Kollege en doen met behulp van ’n regeringstoelaag navorsing in Bantoetale. In 1907 word hy onderwyser op Harrismith.
Van Oordt (D’Arbez), wat in Nederlands skryf, se werke is nie van veel literêre betekenis nie, maar hul kultuurhistoriese waarde is groot. 𝘔𝘰𝘰𝘪 𝘈𝘯𝘯𝘪𝘦 (1896) en 𝘋𝘢𝘷𝘪𝘥 𝘔𝘢𝘭𝘢𝘯 is sy twee beste histories-romantiese verhale. Baie van sy historiese romans is in Afrikaans vertaal.
1946 – Prof. Jacobus Johannes le Roux, linguis en kultuurleier (* 10 November 1888)
Op hierdie dag is Jacobus Johannes le Roux in Pietermaritzburg oorlede. Hy is op 10 November 1888 op Franschhoek gebore. Hy was taalkundige en kultuurleier wat in 1923 aan die Universiteit van Utrecht (Nederland) promoveer en in 1932 die tweede departementshoof van “Hollands en Duits” aan die Universiteit van Natal, Pietermaritzburg, word.
1966 – Hendrik Frensch Verwoerd, Eerste Minister van Suid-Afrika (* 8 September 1901)
Hendrik Frensch Verwoerd is in Amsterdam uit die huwelik van ’n Nederlandse egpaar wat tot die Christelike-Gereformeerde geloof behoort het, gebore. Dit was ’n feit wat die lewe van hul seun diep sou beïnvloed. Die seun is gebore net in die tyd toe die Engelse Oorlog in Suid-Afrika gewoed het. Die egpaar Verwoerd het, soos dit met alle Nederlanders die geval was, diep met die Afrikaanse volk gesimpatiseer. Dit het hulle in 1903 na die einde van die oorlog laat besluit om na Suid-Afrika te emigreer. Die vader het hom as bouaannemer in Wynberg naby Kaapstad gevestig. Hier het die jong seun sy eerste skoolonderrig ontvang – alles in Engels. Die vader, wat in naweke sendingwerk onder die nie-blankes gedoen het, het die drang gevoel om al sy aandag aan kerklike werk te wy. Hierop het die gesin in 1914 na Bulawayo in Rhodesië verhuis, waar die vader in diens van die Nederduitse Gereformeerde Kerk getree het. In 1918 is die gesin na Brandfort in die Vrystaat. Na ’n skitterende skoolloopbaan het die jong Verwoerd hom in 1919 aan die Universiteit van Stellenbosch as student laat inskryf. Sy studieloopbaan was net so skitterend. In 1925 het hy die doktorsgraad in Sielkunde behaal. Op 28-jarige leeftyd is hy tot professor benoem. In 1932 het hy professor in Sosiologie geword. As sodanig was hy een van die leidende figure met die volkskongres oor die armblankevraagstuk wat in Oktober 1934 in Kimberley gehou is. In 1937 het Verwoerd hoofredakteur van die pas gestigte dagblad, Die Transvaler, in Johannesburg geword. As sodanig was Verwoerd spoedig een van die vernaamste manne in die Nasionale Party. Hy het veral bekendheid verwerf vir die wyse waarop hy die republikeinse ideaal gepropageer het. In 1948 het hy lid van die Senaat geword. Sy optrede hier was sodanig dat hy reeds in 1950 tot Minister van Naturellesake in die Kabinet van dr. Malan benoem is. Verwoerd kan inderdaad die grondlegger van die beleid van aparte ontwikkeling genoem word. Onder die wette wat hy ingedien het, was die van Bantoe-onderwys, selfbestuur vir die Bantoe, die ekonomiese ontwikkeling van die tuislande, die opruiming van agterbuurte en die administrasie van die Bantoe in stedelike gebiede van die vernaamste. Op 2 September 1958 is hy tot Eerste Minister aangewys. In hierdie hoedanigheid was een van sy eerste stappe om deur middel van ’n volkstemming van Suid-Afrika ’n republiek te maak. Dit het op 31 Mei 1961 gebeur. Suid-Afrika het daarna uit die Britse Statebond getree. In sy bewind as Eerste Minister is ’n hele aantal stappe van vêrreikende betekenis gedoen. So is begin met die opdamming van die water van die Oranjerivier, die bou van ’n kernreaktor, die skepping van ’n wapenbedryf, die stigting van ’n Ekonomiese Adviesraad en die verlening van selfbestuur aan die Transkei. Dit was ook tydens sy bewind dat Suid-Afrika te doen gekry het met die vraagstukke in verband met Suidwes-Afrika en Rhodesië. Op 6 September 1966 is Verwoerd in die saal van die Volksraad deur Demetrio Tsafendas, ’n bode wat ’n skisofreen was, om die lewe gebring.
1978 – Agnes Alwena (Wena) Naudé, aktrise en toneelbaanbreker (* 31 Desember 1905)
Agnes Alwena (Wena) Naude, wat die eretitel “liefling van die Afrikaanse toneel” verwerf het met haar diens aan die Afrikaanse beroepstoneel, veral in die moeilike aanvangsjare, met die suiwerheid en element van waaragtigheid in haar spel, met haar veelsydigheid, met haar eerbied en piëteit teenoor die rol wat sy vertolk, teenoor haar medespelers, teenoor die skrywer en sy woord, teenoor haar regisseur, het in 1975 haar goue jubileum op die Afrikaanse toneel gevier. As een van die leiers van die Afrikaanse toneel (sy was ook bestuurslid van die FAK se Toneelbond van 1936), het sy haar loopbaan in 1925 in Pretoria begin onder Paul de Groot. In die vyftigerjare het sy haar ook onderskei as rolprentaktrise van formaat. Sy is in Volksrust gebore en op 6 September in Pretoria oorlede.
2023 – Raymond Ackerman, sakeman (* 10 Maart 1931)
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.