
7 JUNIE
GEBEURE
1703 – Adam Tas trou
Adam Tas trou met Elizabeth van Brakel, ryk weduwee van Hans Jurgen Grimpe, en word die eienaar van die plaas, wat hy later Libertas genoem het. Tas word onthou as die man wat die Kaapse goewerneur, Willem Adriaan van der Stel, tot ’n val help bring het.
1898 – Oudpresident FW Reitz word Staatsekretaris van die ZAR
Francis William Reitz, eertydse Staatspresident van die Republiek van die Oranje-Vrystaat, is as Staatsekretaris van die ZAR beëdig nadat dr. WJ Leyds die pos in Mei 1898 ontruim het om as buitelandse gesant die belange van die Republiek, wat in groot spanning met Brittanje verkeer het, te gaan behartig. Nadat Reitz in Desember 1895 om gesondheidsredes as president van die OVS bedank het, het hy sodanig herstel dat hy in Julie 1897 as advokaat in Pretoria gaan praktiseer het. In Maart 1898 is hy tot vyfde strafregter van die Republiek benoem en drie maande later as staatsekretaris. Die Staatsekretaris het ’n baie belangrike plek in die regeringstelsel van die Republiek ingeneem. Die amp is in 1857 ingestel en was aanvanklik (tot in 1873) bekend as Goewermentsekretaris. Die staatsekretaris was verantwoordelik vir die uitvoering van al die besluite van die Volksraad, die Uitvoerende Raad en die Regering. Die Regering het uit die staatspresident en die staatsekretaris bestaan, wat beteken het dat die bekleërs van hierdie twee ampte besonder nou met mekaar moes saamwerk. Daarbenewens was die staatsekretaris ook lid van die Uitvoerende Raad en kon hy ook aldaar groot invloed uitoefen. As staatsekretaris het Reitz die oorlog saam met die Transvalers tegemoetgegaan, het hy die ontberings op die slagveld deurgemaak en ook die vredesooreenkoms onderteken.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag by Rooiwal
Roodewal, soos dit in die Anglo-Boereoorlog bekend was, is ’n spoorwegstasie in die Koppies-distrik, 55 km noord van Kroonstad op die pad na Vereeniging. Hierdie stasie het eensklaps bekend geword toe genl. CR de Wet ’n Britse voorradetrein en talle Engelse troepe daar krygsgevange geneem en ’n enorme voorraad ammunisie en proviand vernietig het. Die skade wat Brittanje hier gely het, is op ongeveer £750 000 geskat. Die geveg het die oggend vroeg begin toe De Wet die stasie met 80 man en ’n Krupp-kanon genader het. Teen 12:00 het genl. C Froneman, wat aanvanklik in opdrag van genl. De Wet ’n Engelse mag in die omgewing van Roodewal aangeval het, hom by genl. De Wet aangesluit en is die Britte van drie kante bestook. ’n Uur later het hulle oorgegee. Die ses bokwaens vol ammunisie waarop De Wet beslag gelê en in die geheim by ’n drif laat begrawe het, sou later van groot waarde wees. Hierdie slag het lord Roberts, wat Pretoria twee dae vroeër beset het, se planne om met die Transvaalse republikeinse leiers te onderhandel, heeltemal in die war gestuur. Rooiwal was een van die eerste suksesse wat die uitgerekte fase van die guerilla-oorlog ingelui het.
1900 – Machadodorp as setel van die regering van die ZAR geproklameer
1912 – Brief van WE Bok aan dr. FV Engelenburg oor vertaalwerk in staatsdepartemente
Die private sekretaris van premier Louis Botha was die heer WE Bok. Op hierdie dag het hy aan dr. FV Engelenburg, redakteur van De Volkstem, ’n streng vertroulike brief oor verskillende sake geskryf. Een daarvan is veral belangrik. Hy spreek sy genoegdoening daaroor uit dat die SA Akademie die saak van vertalings in die Spoorwegdepartement aangepak het. Die vertaling van openbare dokumente is soms meer as treurig, en amptenare in die Spoorwegdepartement is wel die grootste sondaars in hierdie opsig, aldus Bok in 1912. Die Departement Publieke Werke het weer ’n vertaler nodig, omdat daar besluit is om in ieder geval ’n gedeelte van hulle geskrifte in Nederlands te publiseer. Tot dusver die brief. Die Afrikaner en sy taal het na 1925 met die amptelike erkenning van Afrikaans as ’n amptelike taal, na die politieke sukses van 1948 en na die republikeinse staatsvorm van Mei 1961 nog steeds ’n ontsaglike stryd om te stry. Daar bestaan naamlik nog altyd verset teen en moedswilligheid aangaande Afrikaans in sekere openbare sektore.
1937 – Eerste FAK-Volksangbundel oorhandig
Die eerste eksemplaar van die eerste FAK-Volksangbundel is op 7 Junie 1937 by geleentheid van die FAK se Algemene Vergadering in die Clarendonsaal in Bloemfontein aan die voorsitter, dr. NJ van der Merwe, oorhandig.
1988 – Trein-apartheid geskrap
Trein-apartheid in Wes-Kaapland word geskrap as die eerste stap in ’n plan om diskriminasie op treine landwyd uit te skakel
1990 – Noodtoestand tot ’n einde
Pres. FW de Klerk kondig die einde aan van die noodtoestand wat vier jaar geduur het en sê R814 miljoen gaan aan die verbetering van die veiligheidsmagte bestee word
2017 – Brand breek uit
’n Brand breek uit in die Tuinroete te Elandskraal naby Karatara wat groot brandskade tot gevolg het in Knysna.
GEBOORTES
1922 – Hubert Lawrence du Plessis, komponis, pianis en musiekpedagoog († 12 Maart 2011)
1946 – Jan Engelen, akteur en TV-regisseur († 9 Mei 2018)
Jan Engelen was ‘n Suid-Afrikaanse akteur en TV-regisseur. Hy is die seun van Belgiese ouers, die regisseur en akteur Fred Engelen en die aktrise Tine Balder. Hy is in België gebore maar word in Stellenbosch groot waar hy ook gestudeer het.
STERFTES
2017 – Johann Botha, TV- en radio-aanbieder (* 8 Augustus 1963)
2017 – Pieter Georg (PG) du Plessis, skrywer, dramaturg en akademikus (* 14 Julie 1934)
PG du Plessis was ’n skrywer, dramaturg en akademikus. Hy lewer ’n groot verskeidenheid skryfwerk, met ’n beduidende bydrae tot die Afrikaanse drama. Sy rubrieke wat gedurende sy loopbaan as joernalis gepubliseer is, het later uitgeloop op die TV-reeks Koöperasiestories. Sy roman Fees van die Ongenooides (2008) is wyd vereer as een van die beste Afrikaanse letterkundige werke tot op hede.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.