7 MAART – FAMILIES VERENGELS … EN VERAFRIKAANS

Toe Engels in 1832 in die Kaapkolonie die enigste taal van die geregshowe word, het baie regsgeleerdes wat net onderrig en ervaring in Nederlands gehad het, daardeur hul verdienste verloor. Baie het feitlik bedelaars geword. Party nuwe maatreëls het die burgers groot moeite gegee. Op 25 Januarie 1825 is bepaal dat alle dokumente aan die regering in Engels opgestel moes wees of ’n Engelse vertaling moes by hê, anders sou hulle teruggestuur word aan die afsender. Aangesien die burgers nie self die dokumente kon vertaal nie en daar ook nie vertalers op die platteland was nie, moes hulle maar leer om sonder die regering klaar te kom.

Teen die strewe om van hulle Engelse te maak, het die Afrikaners aanvanklik net een “wapen” gehad – hul gebrek aan kennis van Engels. Hulle sou nie ’n Engelse preek kon volg of ’n Engelse brief aan ’n amptenaar kon skryf nie. Die isolasie wat van die Afrikaners in die 18de eeu ’n volk help maak het, het hulle in die 19de eeu teen hul uitwissing as volk met ’n eie taal help bewaar.

Desondanks het die verengelsing van die onderwys en die politieke lewe mettertyd sy tol geëis. Die duidelikste was dit te bespeur in Kaapstad wat lank voor 1850 al hoe meer ’n Engelse stad en al hoe minder ’n Hollands-Afrikaanse stad geword het. Baie Afrikaners het die Anglikaanse kerk besoek en was in Engelse skole.

Tekenend van die rigting was die verengelsing van skole wat Afrikaners gestig het. Op inisiatief van veral dr. A Faure het ’n aantal Kapenaars, hoofsaaklik NG Kerklidmate, in 1829 in die konsistorie van die Groote Kerk die Zuid-Afrikaansche Athenaeum gestig vir meer gevorderde onderrig. Die Athenaeum was die voorloper van die South African College, later Universiteit van Kaapstad. Ruim tweederdes van die aandeelhouers was Afrikaans, maar vandat die kollege op 1 Oktober 1829 geopen is, was Engels die hooftaal. Vir taalonderrig sou twee tale gebruik word: Engels en Hollands. Faure het Grieks en Latyn in Hollands gedoseer, maar vir die ander vakke was die doseertaal Engels. Teen 1840 was Engels die enigste medium.

Uit protes teen die verengelsingsbeleid het dr. ANE Changuion, sedert 1831 dosent in klassieke tale, in 1842 bedank en ’n eie skool, Het Witte Huis, opgerig. Ook dié was gou tweetalig. Onder sy leerlinge was latere presidente soos JH Brand en TF Burgers en die argivaris HCV Leibbrandt. Changuion is die skrywer van De Nederduitsche taal in Zuid-Afrika hersteld (1844); in die tweede druk, 1848, erken hy dat Nederlands geen kans het om volkstaal van die Afrikaner te word nie. ’n Deel van die boek was “Proeve van Kaapsche taaleigen”, 21 bladsye met Afrikaanse woorde en wendings – die eerste uitvoerige dokument oor Afrikaans. Hy noem vier skakerings van Kaapse Nederlands teen 1840: suiwer Nederlands; die Hoog-Hollands van Kaapse burgerkringe, die Platkaaps, met ander woorde Afrikaans, van ander wit mense en die Platkaaps van die Khoi-Khoin en ander bruin mense.

Terwyl sommige Afrikaanse families verengels het, het die nasate van dié Britte wat in oorwegend Afrikaanse gebiede gaan woon en met Afrikaanse vroue getrou het, verafrikaans. Vroeg in die 19de eeu was daar al Afrikaners met vanne soos Annandale, Carney, Dednam, Dyason, Hart, Haywood, Miller, Wilcocks en Watson.