8 JANUARIE – DIE KAAP NÁ TIEN JAAR
Van Riebeeck wou graag na die Ooste gaan en het in 1662 sy lank begeerde bevordering gekry. Hy is opgevolg deur Zacharias Wagenaer. Toe dié op 2 April 1662 in die Kaap aankom, het Van Riebeeck hom te voet en te perd elke uithoek van die nedersetting gaan wys: ook die pakhuise, smids- en wamakerswinkels in die Fort. Die Fort is teen dié tyd nie meer as voldoende beskerming teen moontlike aanvalle beskou nie.
In 1664 het die Kompanjie begin bou aan ’n nuwe fort, later bekend as die Kasteel. Die vyf punte is genoem na die titels van Prins Willem III van Oranje: Buren, Catzenellenbogen, Nassau, Oranje en Leerdam. Ver onderkant Catzenellenbogen was die berugte “donker gat” en ander selle geleë waarin oortreders gevange gehou is. Die Kasteel is in 1679 amptelik voltooi.
’n Onbekende digter het ’n geleentheidsvers gemaak wat op 2 Januarie 1666 in Wagenaer se dagregister opgeneem is: “Den eersten steen van ’t nieuwe Casteel goede hope/ heeft Wagenaer gelegt met hoop van goede Hope …”. Die naam “Kaap de Goede Hoop” het meer as een amptenaar vernuftig laat rym. Aernout van Overbeke het in 1672 ’n puntdig “’t Hooft van het Hooft de Goede Hoop” geskryf, en Pieter de Neyn in 1671 ’n gedig met toespelings op die Suiderkruis.
Die “Kaapse vlek”, soos Kaapstad destyds genoem is, het omstreeks 1666 drie straatjies gehad – die Heere-, Reyger- en Oliphantstraat. Naby die Fort het onder andere gewoon Pieter van der Stael, wat op 17 April 1658 die eerste skool aan die Kaap geopen het. Daar het hy die beginsels van die “Hollants-Nederduytse” taal probeer verduidelik aan die kinders van slawe.
Om sy leerlinge aan te moedig, het hy hulle ’n bietjie brandewyn en tabak gegee as hulle vorder! Saam met die slawe en bandiete het die Kaapse gemeenskap in 1662 maar uit 381 bestaan. Twaalf was wit vroue en 20 kinders. Die eerste wit kind wat (op 6 Junie 1652) aan die Kaap gebore is, was Bernert Willemsz Wijlant, seun van die sieketrooster Willem Wijlant.
Daar was 250 morg landerye, wat egter nie genoeg koring opgelewer het nie, ook omdat die Kompanjie so min daarvoor betaal het. Met die tuinbou was Van Riebeeck meer suksesvol.
Hy het met vreugde in sy dagverhaal melding gemaak van die eerste Hollandse roos wat op 1 November 1659 geblom het, die eerste ryp kersie op 13 Desember 1659 en die eerste twee lemoene op 25 Julie 1661. Hy het ook baie es- en eikebome geplant, en die eerste denneboom uit Holland in Augustus 1656. Op die kommandeur se eie plaas was daar 1244 bome, en sy trots, ’n paar duisend wynstokkies. Op 2 Februarie 1659 – ’n Sondag! – is die eerste wyn gepars van muskadel- en ander wit druiwe.
Van Riebeeck het op 1 November 1662 kommandeur van Malakka geword. Daar is sy vrou, die beminde Maria de la Queillerie, op 2 November 1664 aan pokke oorlede. Dit was ’n week ná die te vroeë geboorte van ’n seuntjie wat ’n uur lank geleef het. Van Riebeeck self sterf op 18 Januarie 1677 in Batavia.
In 1664 het Nederland ’n verlies van wêreldhistoriese betekenis gely. Op 4 September het Pieter Stuyvesant, direkteur van die kolonie Nieuw Nederland in Noord-Amerika, oorgegee aan Engeland. Die naam van die hoofstad, Nieuw Amsterdam, is dadelik verander na New York. Hoewel daar nog lank ’n Nederlandse gemeenskap was, het Nederlands uiteindelik verdwyn uit die land wat die magtigste moondheid op aarde sou word. Enkele name herinner aan die Nederlandse tyd, soos Wall Street en die stadsgebied Harlem, oorspronklik Walstraat en Nieuw Haarlem.