8 JANUARIE
GEBEURE
1806 – Die Slag van Blaauwberg (Blouberg) vind plaas gevolg deur die tweede Britse besetting van die Kaap die Goeie Hoop
’n Sterk Britse troepemag onder genl. D Baird het die swak garnisoen van genl. JW Janssens by Blouberg beslissend verslaan. Dit was die begin van die vestiging van ’n Britse owerheid oor ’n Hollandssprekende bevolking. Die militêre botsing was tegelyk ook simbool van die kultuurstryd tussen Boer en Brit deur baie dekades hierna. Deur middel van wetgewing, die onderwys en kerklike optrede, deur ekonomiese en politieke belemmering en heulery met bedreigers van die Afrikaners en deur middel van verleidingspogings van Afrikaners self, is probeer om Britse oorheersing te bevestig.
1900 – Perde word vir die eerste keer as kos uitgegee tydens die beleg van Kimberley
JW McBeath, ’n chemikus in Stockdalestraat, het die idee gehad om ’n sopkombuis te begin om diegene te help wat nie kos tydens die beleg gehad het nie; Rhodes het die idee geïmplementeer, maar Tim Tyson het die beplanning en werk gedoen. Dr. Thomas Smartt en Julia Rochefort Maguire, korrespondent van The Times of London, het Tyson bygestaan tydens die beleg, en dit was sy wat die eerste porsie moes proe. Op die eerste dag, 8 Januarie 1900, is meer as 3000 porsies uitgereik, met ’n gemiddeld van 2500 porsies per dag van toe af. Groente van Kenilworth het in die mengsel gegaan, asook ten minste 600 perde ondanks die amptelike ontkenning.
Dr. Smartt het geglo dat Cecil Rhodes ook van die perdesop voor die publiek moes eet om aan hulle te bewys dat dit smaaklik en voedsaam was. Rhodes was egter nie lief vir die perdesop nie, alhoewel hy die versekering gegee het dat dit net so goed was soos die beesvleissop. Rhodes het met Smartt ooreengekom dat hy eers die beesvleissop sou eet, en die volgende dag die perdesop. Maar Smartt het Rhodes die perdesop gegee in plaas van die beesvleissop, en Rhodes het nooit die verskil geweet nie.
1918 – Die stigting van die Ko-operatiewe Wijnbouers Vereniging van Zuid-Afrika Bepert (KWV)
Chroniese oorproduksie en die ongeorganiseerde stand van die wynboere bring mee dat, deur die ywer van CWH Köhler, die Ko-operatiewe Wijnbouers Vereniging van Zuid-Afrika Beperkt, geregistreer word. Hoofsaaklik as ’n stabilisasiefaktor en deur bedryfsleiding, het dit bygedra tot die vooruitgang en welvaart van die wynprodusente.
GEBOORTES
1911 – Esther Mentz, operasangeres en aktrise († 19 November 1986)
Esther Mentz was ’n operasangeres en aktrise wat haar debuut as aktrise in die rolprent Donker spore gemaak het. Sy was getroud met die voormalige direkteur-generaal van die SAUK en stigter van die Suid-Afrikaanse Musiekregteorganisasie dr. Gideon Roos, wat sy ontmoet het toe hulle saam aan ’n eidsteddfod deelgeneem het. Sy is op 19 November 1986 in die ouderdom van 75 jaar oorlede.
1936 – Ferdinand (Ferdi) Hartzenberg, politikus (†12 Maart 2021)
Ferdinand Hartzenberg is ’n voormalige Suid-Afrikaanse politikus en die tweede en laaste leier van die Konserwatiewe Party in Suid-Afrika tussen 1993 tot sy samesmelting met die Vryheidsfront in 2004.
STERFTES
1968 – Prof. James Leonard Brierley Smith, igtioloog wat die Selakant geïdentifiseer het (* 26 September 1897)
James Leonard Brierley Smith, meer bekend J.L.B. Smith, was ’n Suid-Afrikaanse igtioloog, organiese skeikundige en professor. Hy het bekend geword toe hy die selakant geïdentifiseer het. Daar is vroeër geglo dat die Selakant reeds uitgesterf het.
1979 – Martha Mabel Jansen, skryfster, opvoedkundige en kultuurleier (* 1 November 1889)
Martha Mabel Jansen, gebore Pellissier, was ’n Afrikaanse opvoedkundige, skrywer, joernalis, kultuurleier, maatskaplike werker en politikus. Sy behaal die M.A. in Grieks en Latyn aan die Hugenote-kollege. Hierdie merkwaardige vrou, eggenote van direkteur-generaal E.G. Jansen, was ’n stigterslid van die Saamwerkersunie, die Voortrekkers, die Vroue-Nasionale Party, die FAK, en die eerste vroulike lid van die SA Akademie. Sy is die skrywer van talle dramas en romans, sowel as die eerste Afrikaanse grammatika. Sy was betrokke by die oprigting van Voortrekkerpers en Die Transvaler, leidende figuur in die opvoeding en opheffing van verarmde Afrikaanse spoorwegwerkers, en ’n yweraar vir die bewaring van kultuur-historiese monumente.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.