DIE LOT VAN DIE PRESIDENTE
Pres. Steyn was in 1907 reeds twee jaar terug in die Vrystaat ná 2½ moeilike jare van herstel in Europa. Skenkings van vriende en simpatiseerders soos Arthur Fichardt van Bloemfontein en Onze Jan Hofmeyr, wat in Kaapstad met ’n kollektelys rondgegaan het, het die reis moontlik gemaak. Op 11 Julie 1902 is hy na die skip gedra. In Nederland is Cornelis Winkler, hoogleraar in neurologie aan die Universiteit van Amsterdam, genader. Hy was met vakansie en het die opdrag gegee dat hulle hom vir niemand ter wêreld moes terugroep nie. Sy suster het hom egter laat weet wie die pasiënt is, en hy het dadelik getelegrafeer dat hy kom. Toe mev. Steyn hom daarvoor bedank, sê hy vir haar dat hy dit vir geen gekroonde hoof in Europa sou gedoen het nie! Hy het Steyn se ongesteldheid aan ’n oormaat van spanning en uitputting toegeskryf en nie aan enige voedselvergiftiging nie. Hy het so mooi herstel, hoewel nooit volkome nie, dat hy en sy vrou Tibbie op 18 Februarie 1905 terug was.
Toe die trein op Norvalspont stilhou, het ’n groep Vrystaters hulle ontvang, onder andere Abraham Fischer, generaal Hertzog en WJ Brebner. Op Kaalspruit, die spoorweghalte naby Onze Rust, het sowat 200 Bloemfonteiners die President ingewag. “Iedereen was bewogen”, het De Vriend des Volks berig. Die plek wat hy van toe af onder die volk beklee het, sê NJ van der Merwe, “herinner in menig opsig aan die profete van ouds. Nes Samuel in sy eensame verblyf op Rama tree hy slegs te voorskyn as die volk sy raad en seën nodig het.”
Hoewel pres. Kruger ná die oorlog sou kon terugkom, het hy en Leyds besef dat dit beter vir die Krugerfiguur en die Afrikanersaak sou wees as hy in ballingskap sterf. Op 14 Julie 1904 is hy in Clarens in Switserland oorlede. Sy oorskot is na Nederland en toe per skip na Kaapstad. Leyds het in die Kaap afskeid geneem. Hy het nie kans gesien om ’n permit van die Milner-regime te vra om die begrafnis by te woon nie.
Sowat 170 000 Afrikaners het hul persoonlike eer aan Kruger bewys in die Kaap, op die reis van die routrein na Pretoria en by die begrafnis. By elke halte en stasie het mense opgedaag: 5000 op Stellenbosch, 3000 in die Paarl, tussen 4000 en 5000 op Worcester, 12 000 in Bloemfontein en 2000 op Kroonstad. Op baie klein plekkies het mense ’n gewyde lied gesing en ’n krans van sewejaartjies gegee.
Die masjinis het opdrag gehad om te stop op elke stasie waar daar mense was. Om middernag die eerste nag het die trein stilgehou op ’n halte net suid van Laingsburg, waar ’n lanternliggie langs die spoor geflikker het. Ná ’n paar sekondes klink in die stille Karoonag vers 5 van Psalm 42: “Maar de Heer zal uitkomst geven.” Eers klink dit onseker en sag, maar weldra uit volle bors: bo twee swaar manstemme klink die stem van ’n vrou, helder en skoon, totdat die laaste woorde in die donker wegsterf. Enkele oomblikke is dit doodstil, en dan vertrek die trein.
Zietsman skryf in sy boek oor Kruger se laaste jare: “Suid-Afrikaanse historici het die impak van Kruger se sterwe in ballingskap, sy tuiskoms en sy begrafnis op die naoorlogse Afrikanernasionalisme nog nie na waarde geskat nie.”