
10 AUGUSTUS
GEBEURE
1652 – Saad ontkiem
Op hierdie dag het Jan van Riebeeck in sy dagboek aangeteken dat die grond so vrugbaar was dat saad wat weggespoel het, in oorvloed ontkiem het.
1854 – In Kaapstad is die eerste stoomaangedrewe drukpers in gebruik geneem
1866 – Eerste verwysing na Antjie Somers
Die vroegste bekende verwysing na Antjie Somers verskyn op hierdie dag in The Friend (Bloemfontein). Hierin word vermeld dat Antjie Somers tydens die bewind van lord Charles Somerset ’n berugte struikrower in Kaapland was: ’n manspersoon – Kleurling of nie-blanke – wat vroueklere aangetrek en die Kapenaars snags aangerand en beroof het op pad huis toe. Die 18de en 19de eeu was ’n onveilige tydperk in ons land se geskiedenis, en in die besondere lewensomstandighede van destyds het ’n historiese figuur geleidelik ’n sagefiguur in ons volksoorlewering geword. Daar is vertel dat Antjie Somers kinders ontvoer wat alleen of ontydig buite loop, dat hy by huise aanklop wanneer die mans weg is en die vroue en kinders aanrand, dat hy as ’n bediende werk soek en die kinders met ’n handbyltjie doodkap – en altyd was hy vermom in vroueklere. Dis opmerklik dat die oorspronklike struikrower-oorlewering mettertyd verflou het, en dat hy ’n kinderskrik in ons volksgeloof geword het. Soos dergelike gestaltes in die kinderwêreld, het Antjie Somers ook ’n afskrikwekkende uiterlike vertoon – ’n heks as’t ware. Antjie Somers het ook mettertyd ons volkstaal binnegedring (uitdrukkings, klankspeling en assosiasies.) ’n Ander bekende verskynsel in ons volksoorlewering is Tokkelossie. Die bygelowe in verband met hierdie skrikfiguur stam uit die kultuurkring van die swart mense. Die swart mense se Tokkelossie is ’n kindervriend, maar by die blankes staan hy bekend as ’n kinderskrik. By die swart mense heers die opvatting dat Tokkelossie onsigbaar is en ook ’n geskikte boodskapper van die towenaars en hekse is. Met die oorgang na die blanke kultuurbelewing, is dit opvallend dat Tokkelossies veral verbind word met goëlery en alles wat daarmee saamhang.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Buffelsdoorns; Beginderlyn, ZAR
1914 – Afrikanerrebellie
Louis Botha laat weet die Britse regering dat sy kabinet na deeglike oorweging besluit het om in te stem tot ’n gesamentlike operasie soos versoek, met die Britte wat vir die seemag en die Unie wat vir die landmag verantwoordelik sal wees.
Jan Kemp en kolonel Apie Bezuidenhout besoek vir Koos de la Rey in Lichtenburg. Volgens hom het De la Rey by hierdie geleentheid verklaar dat hy in oorleg met CR de Wet en andere optree en dat, as die burgers by Treurfontein bereid sou wees om die republikeinse vlag te hys, hy hulle na die Paardekraalmonument in Krugersdorp sou lei. Hy sou voorts vir Botha nooi om by die kommando aan te sluit en die burgers sou hom dan by Paardekraal uitroep as president van die nuwe, vrye Suid-Afrikaanse Republiek. Kemp het bygevoeg dat hy tevergeefs aan De la Rey probeer verduidelik het dat hy oorhaastig was.
1920 – Die Suid-Afrikaanse Reserwebank gestig
Die vroegste voorstelle vir die oprigting van ’n Suid-Afrikaanse sentrale bank is reeds in 1879 gedoen deur die Afrikanerbond, destyds ’n belangrike politieke organisasie in die Kaapkolonie. Die uiteindelik stigting van ’n sentrale bank in Suid-Afrika was in ’n groot mate ’n regstreekse uitvloeisel van die ekonomiese en finansiële ontwikkeling wat deur die Eerste Wêreldoorlog veroorsaak is. Die eerste stap om ’n sentrale bank te stig was die besluit wat in Oktober 1919 op die sogenaamde Goudkonferensie gedoen is, om die “beste metodes te beding om die belange van Suid-Afrika te beveilig en sy geldeenheid op ’n natuurlike grondslag te plaas.” By die konferensie is ’n besluit geneem dat ’n eenvormige bankwet die afsonderlike bankwette wat in die vier saamgestelde provinsies van die Unie van krag was, moes vervang. In teenstelling met hierdie besluit, het die konsepwetgewing wat deur die Tesourie opgestel is, verder gegaan as die Konsolidasie van die provinsiale bankwette, en ook voorsiening gemaak vir wetgewing wat die oprigting van ’n sentrale bank in die Unie moontlik gemaak het. Die konsepwetsontwerp wat die oprigting van die sentrale bank voorstel, is in die loop van Julie 1920 by die Volksraad ingedien waarna die Senaat dit op 10 Augustus goedgekeur het.
1965 – Karen Muir stel wêreldrekord op
Karen Muir, Suid-Afrikaanse swemster stel ’n wêreldrekord op in die 110 treë-rugslag (tans 100 m); die jongste persoon ooit.
1972 – Die Daspoorttonnel amptelik geopen
GEBOORTES
1783 – Louis Tregardt, Voortrekkerleier († 25 Oktober 1838)
Louis Trichardt (Tregardt) is op hierdie dag op Oudsthoorn, in die distrik Swellendam gebore. Later het hy op verskillende plekke in die Graaff-Reinet distrik geboer, en teen 1834 was hy in die omgewing van die Wit Kei gevestig.
Ontevrede oor die voortdurende Xhosa-strooptogte, die Britse filantropiese beleid en die vrystelling van die slawe, het hy die Kaapkolonie vroeg in 1835 met ’n aantal medeburgers verlaat. Naby Bethulie het hy oor die Oranjerivier getrek, en daarna het hy die Caledonrivier bereik waar die trek van Johannes J Janse van Rensburg by hom aangesluit het. Gesamentlik, maar afsonderlik, het die twee geselskappe noordwaarts getrek tot by die Strydpoortberge waar hulle geskei het. Trichardt het hom mettertyd op verskeie plekke in die omgewing van die Soutpansberg gevestig waar hy meer as ’n jaar vertoef en ’n patrollie van Andries H Potgieter hom aangetref het. Sy geselskap vertrek in Augustus 1837 op die moeisame en rampspoedige tog deur die Laeveld en oor die Drakensberg na Lourenço Marques. Geteister deur malaria, bereik die gehawende geselskap Lourenço Marques in April 1838 waar eers Trichardt se vrou, en daarna hyself op 25 Oktober 1838 beswyk. Trichardt se Dagboek is ’n belangrike historiese bron terwyl hy deur sy trek nie net die noordwaartse roete vir die Voortrekkers gebaan het nie, maar ook die begeerte geprikkel het by sommige om hulle in die oor-Vaalse gebied te vestig.
1903 – Elizabeth Johanna Möller (Bettie) Conradie, letterkundige en kultuurstryder († 27 Oktober 1939)
Bettie Conradie was ’n Afrikaanse lektor wat haar kort lewe aan die uitbouing van die Afrikaanse kultuur gewy het. Sy is veral bekend vir haar gesaghebbende navorsing oor Hollandse skrywers in Suid-Afrika. Prof. PJ Nienaber het eenmaal vertel dat hy die woord “Africana” die eerste keer by Bettie Conradie gehoor het.
STERFTES
1916 – Tobias Smuts, Boeregeneraal (* 25 November 1861)
Tobias Smuts is op 25 November 1861 op die plaas Krugerspos in die distrik Lydenburg gebore. Hy was nege jaar ouer as sy broer Jan Christiaam Smuts. Na sy studies aan die Victoria-kollege op Stellenbosch was hy deel van die Houtbosberg-ekspedisie in Noord-Transvaal en het daarna teen Makhado geveg. Aan die begin van 1899 word hy kommandant van die Ermelo-kommando en word hy lid van die eerste Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Hy was deel van die gevegte by Natal, eers as privaat en later as assistent-kommandant. Na die slag van Colenso word hy aangestel as veggeneraal en na die slag van Spioenkop is hy aangestel as assistent-kommandant-generaal vir die Transvaalse mans in die Vrystaat. Op 7 Mei 1900 was hy terug in Pretoria vir die laaste Huis van Vergadering. Hierna het hy geveg op Donkerhoek en was by die slag van Carolina. Op 7 Januarie 1901 beveel generaal Louis Botha sewe aanvalle en generaal Tobias Smuts lei die aanval op Machadodorp. Aan die einde van die oorlog het hy in Oos-Transvaal geveg en daarna na die boerdery teruggekeer en in 1910 is hy benoem as lid van die Volksraad vir Ermelo. Hy het daardie posisie tot 1916 behou. Hy is op 10 Augustus 1916 oorlede op die plaas Elandsfontein in die distrik Baberton.
1960 – Erich Mayer, Suid-Afrikaanse landskapskilder (* 19 April 1876)
Mayer, kunsskilder en grafiese kunstenaar van formaat, is op 19 April 1876 in Karlsruhe, Duitsland, gebore. Hy kom in 1898 om gesondheidsredes na Suid-Afrika en vestig hom op Vrede in die Vrystaat. Sy verblyf tussen die Boere laat hom lewenslank besonder toegeneë teenoor hulle voel, met ’n behoefte om die Afrikaner uit te beeld. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sluit hy hom by die Duitse Korps aan en word op 21 Oktober 1899 by Elandslaagte krygsgevangene geneem en na St. Helena gestuur. Ná die oorlog is hy terug na Duitsland en keer eers sowat sewe jaar later terug na Suid-Afrika. Hy skilder veral in die Vrystaat en die Transvaalse Laeveld, hoofsaaklik waterverfskilderytjies van klein formaat. Later, vanaf 1929, skilder hy ook toenemend in olieverf en maak potlood-, ink- en krytsketse. Hy beeld veral eenvoudige tonele en gebeure in die plattelandse lewe van die eerste helfte van die 20ste eeu uit; die Suid-Afrikaanse landskap, veldlewe, kremetartbome, nagmaals- en dorpstonele, boerekinders en swart mense. Sy kunswerke is ’n waardevolle bron vir navorsers oor die tradisionele leefwyse van die inwoners. Hy is nooit as kunstenaar besonder hoog geag nie, maar was ’n uitmuntende kopieerder van die werklikheid. Hy sterf op 10 Augustus 1960 in Pretoria.
1987 – Mattheus Uys (Uys) Krige, skrywer, digter en dramaturg (* 4 Februarie 1910)
Uys Krige was ’n bekende Afrikaanse skrywer, digter en dramaturg.
Mattheus Uys Krige, die seun van die voormalige Springbok-senter Japie Krige, het vroeg in 1927 aan die Stellenbosch Boys High School (vandag Paul Roos Gimnasium) gematrikuleer waarna hy aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer het. Nadat hy sy BA-graad in die regte verwerf het, het hy van 1931 tot 1935 in Frankryk en Spanje gaan woon waar hy Frans en Spaans vlot leer praat het. Hy het ook rugby vir ’n klub in Toulon in die suide van Frankryk gespeel. Soos sy pa het hy senter gespeel.
Terug in Kaapstad het hy kennis gemaak met belangrike letterkundiges en skrywers van sy tyd, onder wie NP van Wyk Louw, sy broer WEG Louw, ID du Plessis en Abraham Jonker, die pa van die digteres Ingrid Jonker. In samewerking met ’n Nederlandse uitgewer het hy ’n bloemlesing van nuwere Afrikaanse digkuns saamgestel en van sy eie verse het hierin onder die skuilnaam Arnoldus Retief verskyn. In Oktober 1936 het hy die letterkunderedakteur van die pas gestigte koerant 𝘋𝘪𝘦 𝘚𝘶𝘪𝘥𝘦𝘳𝘴𝘵𝘦𝘮 geword.
Hy was ’n uitgesproke teenstander van die Nasionale Party se apartheidsbeleid en in die 1960’s het hy hom by verskeie geleenthede skerp hierteen uitgespreek . Hy is genooi om lesings by universiteite soos Rhodes, Witwatersrand, Stellenbosch en Natal aan te bied.
In 1983 het die radio-omroeper Pierre Marais ’n televisieprogram, 𝘚𝘰𝘭 𝘺 𝘴𝘰𝘮𝘣𝘳𝘦, oor sy lewe vervaardig en hiervoor het hy vir die laaste keer ’n reis na Europa onderneem. Hy is op 10 Augustus 1987 in die ouderdom van 77 jaar aan maagkanker oorlede.
2015 – Berna Ackerman, skrywer en musiekdosent (* 27 November 1935)
Dr. Berna Ackerman was ’n Suid-Afrikaanse skrywer en musiekdosent. Sy het die ATKV-Prosaprys en M-Net-boekprys vir haar semi-outobiografiese boek, Liesbet Delport se oorlogboek, ontvang. Die boek handel oor haar as Bloemfonteinse kind ten tye van die Tweede Wêreldoorlog. Ackerman was jare lank ’n musiekonderwyser aan die Hoërskool Sentraal, Hoërskool Eunice, Hoër Meisieskool Oranje en die Bloemfonteinse Onderwyskollege. Daarna het sy tot haar aftrede in 1995 musiek aan die Universiteit van die Vrystaat doseer. Sy is op 10 Augustus 2015 weens lewerkanker oorlede.
2018 – Koos Human, uitgewer, rubriekskrywer en musiekkenner (* 29 November 1931)
Koos Human het in 1959 die uitgewersmaatskappy Human & Rousseau saam met Leon Rousseau gestig. Die maatskappy het gegroei en ‘n beduidende bydrae tot die bevordering van die boekebedryf in Suid-Afrika gelewer. Human & Rousseau is in 1977 aan Nasionale Pers verkoop en het in Februarie 2009 hul 50ste verjaarsdag gevier.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.