11 AUGUSTUS

GEBEURE

1595 – Cornelis de Houtman in Mosselbaai

Conelis de Houtman land by die teenswoordige Mosselbaai. Hierdie landing volg nadat hy nege dae tevore om die Kaap gevaar het. Hulle het van die geleentheid gebruik gemaak en vee van die Khoi geruil.

1914 – Afrikanerrebellie

Die magistraat van Lichtenburg, JC Juta, lig die regering in dat hy verneem het dat generaal Koos de la Rey kommandeerbriefies in die Lichtenburg-distrik versprei in terme waarvan al die burgers op 15 Augustus ’n vergadering op Treurfontein (tans Coligny) in die Wes-Transvaal moet bywoon, en gewapen en met mondprovisie vir agt dae moet opdaag. Gerugte het gelui dat De la Rey beplan om die Vierkleur te hys.

1946 – Stellenbosse Musiekvereniging gestig

Die Stellenbosse Musiekvereniging, op hierdie dag gestig, het ’n maksimum ledetal van vyftig en reël jaarliks agt of nege huiskonserte waarin lede self huismusiek maak. Deur die jare het verskeie beroemde kunstenaars hier opgetree en het menige jong student sy eerste geleentheid vir openbare optrede gekry.

 

GEBOORTES

1904 – Pierre de Villiers Pienaar, taalkundige en kultuurhistorikus († 6 April 1978)

1906 – Prof. Daniël Wilhelmus Krüger, argivaris, dosent en geskiedskrywer († onbekend)

1909 – Marthinus Versfeld, filosoof en professor in die Filosofie († 18 April 1995)

 

STERFTES

1771 – Rijk Tulbagh, 18de goewerneur van die Kaap de Goede Hoop van 1751 tot 1771 (* 14 Mei 1699)

Twintig jaar lank was Rijk Tulbagh ’n beminde en gerespekteerde goewerneur aan die Kaap (1751 tot 1771). Hy is op 14 Mei 1699 in Utrecht, Nederland, gebore en kom as sestienjarige in diens van die VOC na die Kaap waar hy deur sy ywer en pligsbesef vinnig vordering gemaak het. Toe hy in April 1751 sy swaer, Hendrik Swellengrebel as goewerneur van die Kaapkolonie opvolg het hy reeds waardevolle ondervinding van bestuursake aan die Kaap gehad. Die jare van Tulbagh se bestuur was ’n tyd van rustige uitbreiding. Op sy inisiatief vind daar verskeie ekspedisies na die binneland plaas. In 1754 pak hy ook die konsolidasie van die slawewette aan om dit in ooreenstemming met die vereistes van sy tyd te bring. Weens die swierige en weelderige lewe van die amptenare van die VOC veral in die Ooste, is die sogenaamde “Prag- en Praalwette” deur die goewerneur-generaal van Batavia in 1754 uitgevaardig. In gewysigde vorm pas Tulbagh dit ook toe aan die Kaap en hef beperkings op weelderige koetse en uitspattige kleredrag, op die gebruik van sambrele wat ’n statussimbool was, op oordadige huweliksfeeste en begrafnisse. Tulbagh het ’n wye belangstelling gehad, onder meer in die plante- en dierelewe aan die Kaap. Hy stuur gereeld monsters van plante en opgestopte diere na Nederland. Die beroemde plantkundige Kinnaeus het ’n leliesoort na hom vernoem – die bekende Tulbaghia. In 1725 is Tulbagh met Elizabeth Swellengrebel getroud, ’n Kaapsgebore dogter van die stamvader. Sy was dus ’n suster van Tulbagh se voorganger, goewerneur Swellengrebel. Rijk en Elizabeth se twee seuns is albei jonk oorlede en toe ook Elizabeth in 1753 na ’n langdurige siekte sterf, was dit vir hom ’n swaar slag. Rijk Tulbagh het hom volkome met sy nuwe vaderland vereenselwig. Sy wysheid en mensliewendheid het hom algemeen bemind gemaak en die eretitel van “Vader Tulbagh” besorg. Hy is in 1771 in Kaapstad oorlede.

1940 – Dr. Nicolaas Johannes (NJ) van der Merwe, eerste voorsitter van die FAK en eerste hoofleier van Die Voortrekkers (* 17 Februarie 1888)

Nicolaas Johannes van der Merwe is op Senekal gebore en op 11 Augustus 1940 in Bloemfontein oorlede. Hy het in die konsentrasiekamp op Norvalspont as kind besondere ondervindinge meegemaak wat beskrywe is in sy boek Die Burgermeester van Sannahspos (1929). Hy behaal sy BA aan UKOVS en voltooi sy teologiese studie aan die Teologiese Kweekskool, Stellenbosch. Hier was hy ’n studenteleier. Hy volg Tobie Muller op as leier van die Afrikaanse Taalvereniging en speel ’n belangrike rol om die studente van Stellenbosch bewus te maak van hulle taal. Van 1915 tot 1919 was hy predikant van Wepener. Met sy eerste Sinodesitting in 1916 dien hy ’n voorstel in dat die Bybel in Afrikaans vertaal moet word, en dat predikante die reg moet hê om in Afrikaans te preek. Hierdie voorstel word goedgekeur. Dit was die eerste sinodale besluit van die aard in Suid-Afrika. Kort hierna sou ander sinodes volg. Dit was die begin van die Afrikaanse Bybelvertaling. In 1919 vertrek hy na die Vrye Universiteit van Amsterdam om sy doktorsgraad in die Nuwe Testament te behaal. Hy promoveer op 21 Januarie 1921 op die proefskrif Die Sosiale Prediking van Jesus Christus. Hierdie proefskrif het hy in Afrikaans geskryf, terwyl baie Afrikaners in daardie tyd nog hulle proefskrifte in Hollands ingelewer het. Van 1921 tot 1924 was hy predikant op Theunissen. In 1924 word hy Volksraadslid van die Nasionale Party vir Winburg, ’n setel wat hy tot sy dood behou. Na samesmelting in 1933 word hy ’n volgeling van dr. DF Malan en leier van die Nasionale Party in die Vrystaat. Dr. Van der Merwe het ’n prominente rol in die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur gespeel. Hy was onder meer stigter en eerste voorsitter van die FAK in 1929. Saam met hom het in die eerste Hoofbestuur van die FAK gedien mnre. IM Lombard, LJ Erasmus, proff. TJ Hugo, EC Pienaar en mev. MM Jansen. Hy het trouens tot sy dood in 1940 voorsitter van die FAK gebly. Hy was ook lank voorsitter van die Kaapse Helpmekaarbeweging. Saam met dr. CF Visser, het hy hom beywer vir ’n jeugbeweging onder Afrikanerkinders. Die Voortrekkers word in 1931 gestig met hom as die eerste nasionale leier van hierdie beweging. Hy was getroud met Isabella (Tibbie), dogter van pres. MT Steyn. In 1921 skryf dr. Van der Merwe ’n biografie van twee boekdele oor sy skoonvader. Dit is hoofsaaklik gedoen met behulp van dokumente wat toe nog in besit van mev. (pres.) Steyn was. Die onmeetbare invloed van dr. Van der Merwe op die Afrikaner en sy kultuur kan vandag nog nie ten volle na waarde geskat word nie.

1940 – Hendrik Pieter Nicolaas (HPN) Muller, konsul-generaal en Boere-pleitbesorger (* 2 April 1859)

Hendrik Pieter Nicolaas Muller is in Rotterdam gebore en besoek Suid-Afrika die eerste keer in 1883, toe hy reeds vennoot in ’n Nederlandse handelsfirma was. Hiermee begin sy belangstelling in Suid-Afrika, en as begeesterde reisiger (en volkekundige) het hy talle artikels en kleiner werkies oor Paul Kruger en Suid-Afrika geskryf. In 1896 het hy HAL Hamelberg opgevolg as konsul-generaal van die Oranje-Vrystaat en het hy hom beywer om verdrae vir die Republiek in Berlyn en Bern te sluit. Sy vaderlandsliefde en nasietrots was so ruim dat hy die Boeresaak tydens die Anglo-Boereoorlog met volle oorgawe kon dien. Sy kantoor in Den Haag het ’n belangrike sentrum vir hulpverlening aan die Boere geword, en hy het selfs na Amerika gereis om die saak van die boere te propageer. Orals het hy kennis van die Boerestryd versprei en meegewerk om by die verskillende nasies van Europa wye belangstelling te wek. In 1919 is hy in die Nederlandse diplomatieke diens opgeneem, en hy het talle ordetekens ontvang. Sy borsbeeld staan in die hoofgebou van die UOVS. Hy is op 11 Augustus 1940 in Den Haag oorlede.

1973 – Blanche Gerstman, komponis en musikant (* 2 April 1910)

Blanche Gerstman was een van Suid-Afrika se belangrikste komponiste, maar ook ’n veelsydige musikus wat haar brood as orkesspeelster verdien het. Sy was ook van tyd tot tyd dosent in komposisie aan die Universiteite van Pretoria en Kaapstad. Sy het musiek vir die viool, klavier, orrel en orkes gekomponeer, maar het haar grootste welslae met sangwerke behaal, waarvan die koorwerke “Die Boodskap van Maria” en “Uit die Passie” die belangrikste is. Sy is op 11 Augustus 1973 oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/