11 MAART – TAALTOESTAND AAN DIE OOSGRENS VOOR DIE TREK

Was die regering se taalmaatreëls ’n oorweging vir die trek? Blykbaar nie. CFJ Muller beskryf in Die oorsprong van die Groot Trek die taaltoestand in die grensdistrikte en -dorpe vóór die trek. Op die platteland het al hoe meer Britse Setlaars Afrikaans begin leer (behalwe in die Setlaarsdistrik Albanie) en is in die Afrikaanse gemeenskap opgeneem. By gebrek aan ander kerkgeriewe het hulle noodgedwonge lid geword van die NG Kerk, waar die Skotse predikante hulle gou laat tuis voel het. In Port Elizabeth en Grahamstad is Afrikaners, soos in die Kaapse Skiereiland, in die Engelse gemeenskappe opgeneem. Kinders van Afrikaners is daar meer dikwels na Engelse skole gestuur, waar hulle vlotter en beter Engels leer praat het, en waardeur dit vir hulle makliker geword het om met Engelse te trou.

Op die grensdorpe het Afrikaners en Engelse mekaar ontmoet en beter leer ken. Hulle het mekaar se taal aangeleer en gemeenskaplike probleme bespreek. Afrikaans was die algemene omgangstaal en Hollands die skryftaal, hoewel Engels in die staatskantore veld gewen het. Briewe van hoër beamptes van Grahamstad en Kaapstad was in Engels; amptelike kennisgewings was in Hollands en Engels. Die korrespondensie uit die platteland was in ’n taalvorm tussen Afrikaans en Hollands. Die briewe en rapporte kon moeilik vertaal word en het soms die amptenare grys hare gegee. Partykeer moes ’n oorwerkte amptenaar uit sy karige salaris ’n vertaler huur. Behalwe in Kaapstad, Grahamstad en Albanie was Hollands vóór die Trek toonaangewend ondanks lord Charles Somerset se proklamasie. Sonder Hollands kon die owerheid nie die dorpe en distrikte administreer nie. Die veldkommandante en veldkornette se Hollandstaligheid moes noodgedwonge aanvaar word, skryf Muller, “want anders sou die ganse raamwerk van die plaaslike bestuur in duie stort”.

Selfs ou dorpsbewoners soos Piet Retief en Gerrit Maritz het Engels blykbaar nooit heeltemal bemeester nie. Engels kon hulle verstaan en lees, en waarskynlik kon hulle dit redelik skryf, maar om ’n ietwat ingewikkelde betoog daarin af te steek, sou nie maklik gaan nie. Dieselfde geld vir Piet Uys, hoewel hy as renperdeienaar en burgeroffisier die vriend van baie Britse offisiere was. Op die meeste Oosgrensdorpe, selfs die kleinstes in die Karoo, het Engelstaliges gewoon. Baie beroepslui was Engels, maar kon Afrikaans met kliënte praat.

Die Anglisasiebeleid was nog geen grief nie, en Voortrekkers het dit byna nooit genoem nie. Hulle was ontevrede omdat skole net Engels was, maar die meeste het hul kinders nie lank laat skoolgaan nie, of private onderwysers gebruik. In die kerk het so min lidmate Engels geken dat die Skotse predikante nie gehoor gegee het aan regering se instruksies om hulle Engels te help leer nie. Maar voor die Trek was daar tekens dat Engels begin veld wen het ten koste van Afrikaans en Hollands, veral in die staatskantore, ekonomiese en beroepslewe. Nadat duisende Afrikaners na die noorde getrek het, het Engels in die Oos-Kaap gevorder. Afrikaanse bruin mense het hul taal behou; daar was min sosiale omgang met Engelse wit mense.