12 OKTOBER
GEBEURE
1679 – Simon van der Stel kom in die Kaap aan
1898 – Normaalskool gestig
Die Bloemfontein Onderwysersopleidingskollege word as die Normaalskool gestig, met PJ du Pré le Roux as eerste skoolhoof.
1899 – Anglo-Boereoorlog: Die eerste skote gevuur
Die heel eerste skoot van die Anglo-Boereoorlog is op hierdie dag om ongeveer 22:45 uit die Mauser van veldkornet Coetzee by Kraaipanstasie gevuur nadat ’n spoorstaaf tussen Mafeking en die stasie verwyder is. ’n Lokomotief van die Engelse magte het vroeër die aand daar ontspoor terwyl die Mosquito met twee kanonne wat hy op Vryburg gaan haal het, die lokomotief gevolg het. Die gepantserde trein, die Mosquito, het tot teenaan die ontspoorde lokomotief gery waarop lt. Elliot opdrag gegee het dat sy soldate die spoor moet herstel. Veldkornet Coetzee het die Engelse genoeg kans gebied om met hulle rooi lanterntjies onder die ontspoorde lokomotief in te klim en toe die eerste skoot van die oorlog geskiet. Hierna sou die oorlog twee jaar en sewe maande duur – ’n oorlog wat duisende lewens en honderde miljoene rande gekos het. Met die uitbreek van die oorlog was daar 22 905 weerbare Vrystaatse burgers en 32 353 weerbare Transvaalse burgers. Altesaam dus ongeveer 55 000, hoewel daar in geen stadium meer as 40 000 Boerekrygers te velde was nie. Daarteenoor het die Britse Ryk van 448 000 soldate gebruik gemaak om die klein Republieke op die knieë te dwing. Ongeveer 4 000 Boeresoldate het gesneuwel maar die grootste lewensverlies aan Boerekant was die 26 370 vroue en kinders en 1 676 mans bo sestien, die meeste grysaards wat in die konsentrasiekampe met hulle lewe betaal het vir hulle vryheidsideaal. Daar is altesame 116 572 mense in die konsentrasiekampe aangehou: 32 561 krygsgevangenes is in Suid-Afrika of in die buiteland aangehou, en 20 782 Bittereinders het aan die einde van die oorlog wapens neergelê. Die oorlog het Brittanje duur gekos, uit die skatkis ongeveer R380 miljoen en aan lewensverlies ongeveer 22 000 offisiere en manskappe op die slagveld, meer as vyf maal soveel as die 4 000 Boeresoldate wat op die slagveld gesterf het. Tog was die prys wat die Boererepublieke moes betaal feitlik onverhaalbaar.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Witpoort in die Mapogsgronde, Tvl.
1906 – DF Malherbe se toespraak
Prof. DF Malherbe lewer ’n historiese lesing in Wellington, wat handel oor die vraag of Afrikaans ’n dialek of ’n nuwe taal is.
1908 – Unifikasiekongres in Durban
Op hierdie dag, presies nege jaar nadat die eerste skoot tussen Boer en Brit in die Anglo-Boereoorlog geval het, het afgevaardigdes van die vier Britse kolonies in Suid-Afrika en van Rhodesië in Durban vergader om politieke eenwording te bespreek. Dit was die eerste sitting van die Nasionale Konvensie wat onder voorsitterskap van sir Henry de Villiers tot 5 November byeen was in wat later die Durbanse poskantoor geword het. Latere sittings sou in Kaapstad en Bloemfontein volg. Die beraadslaginge het gespruit uit ’n begeerte tot ’n eenvormige spoorweg- en doeanebeleid en uit die noodsaak om eenvormig teenoor die swartes op te tree. Boer en Brit se politieke oogmerke het egter verskil. Terwyl die Engelse die begrip politieke eenheid as ’n versterking van Brits-imperiale belange gesien het, het die Afrikaners dit as geleentheid gesien om hul nuut ontdekte politieke krag te toets. Hierin was die kiem geleë van ’n stryd tussen Afrikanernasionalisme en Britse Imperialisme wat hom eers ’n halfeeu later sou uitwoed.
1914 – Afrikanerrebellie
Die regering kondig in reaksie op Manie Maritz se eensydige rebellie krygswet af oor die hele Unie van Suid-Afrika.
Christiaan de Wet kom in Bloemfontein aan. Hy neem met verontwaardiging kennis dat sy naam in die regering se amptelike kennisgewing oor Maritz se rebellie op so ’n wyse vermeld word dat dit hom in ’n verdagte lig voorstel. Hy vertrek dadelik na Onze Rust, president MT Steyn se plaas suid van Bloemfontein, waar hy met die oudpresident en JBM Hertzog samesprekings voer. Die vurige De Wet het op hierdie stadium alle vertroue in die bedoelings van Louis Botha en Jan Smuts verloor, wat dit vir Steyn onmoontlik gemaak het om hom tot kalmte te maan. De Wet, wat nie van Maritz se ooreenkomste met die Duitsers bewus was nie, het voorts die mening uitgespreek dat Maritz die slagoffer van Botha en Smuts se politieke gekonkel was en op een of ander wyse gehelp behoort te word. Hy vertrek nog dieselfde aand na Koppies.
1977 – Kaalvoetvroubeeld onthul
GEBOORTES
1762 – Jan Willem Janssens, goewerneur († 23 Mei 1838)
Jan Willem Janssens was die laaste Nederlandse goewerneur van die Kaap.
1865 – Luit.kol. Hermanus Christiaan (Manie) Bredell, lyfwag en private sekretaris van Paul Kruger († 19 Maart 1953)
Hermanus Christian (Manie) Bredell is op hierdie datum bykans onopgemerk op sy plaas Zonneheuvel, distrik Marquard, oorlede. Voor sy aftrede op 31 Desember 1926 was hy Sekretaris en Hoof-adjunkkommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie. Manie Bredell sal egter veral onthou word vir die noue verbintenis waarin hy met pres. Kruger gestaan het tydens laasgenoemde se laaste lewensjare in Europa. Tydens die bykans vier jaar het Bredell feitlik onafgebroke by Paul Kruger gebly en hom op sy verskillende reise vergesel – eers as lyfwag en na Oktober 1901 ook as private sekretaris. Soms het Bredell se eie persoonlike ambisie, sy frustrasie en die begeerte om na Suid-Afrika terug te keer en daadwerklik aan die wapenstryd deel te neem, hom byna te magtig geword, tog het hy sy pligte ten opsigte van pres. Kruger tot op die laaste met sy kenmerkende bekwame pligsgetrouheid nagekom. Uit hierdie tyd dateer sy dagboek (gepubliseer deur die RGN in 1972) waarin hy insiggewende besonderhede vermeld van die huishouding van die President, sy laaste lewensdae, en veral ten opsigte van die persone wat die naaste aan Paul Kruger in die jare van sy ballingskap gestaan het. Saam met PGW Grobler was Bredell ook verantwoordelik vir die teboekstelling van die Gedenkskriften van Paul Kruger wat in 1902 gepubliseer en in verskeie tale vertaal is.
1909 – Abraham Petrus Smit, predikant in die NG Kerk, geskiedskrywer en derde argivaris van die Kaapse Kerk († 11 Maart 1979)
1920 – Braam Raubenheimer, politikus en minister van waterwese († 8 Julie 2014)
STERFTES
1668 – Zacharias Wagenaer, tweede kommandeur van die Kaap die Goeie Hoop (* 10 Mei 1614)
Zacharias Wagenaer was die tweede kommandeur aan die Kaap die Goeie Hoop en het Jan van Riebeeck op 9 Mei 1662 opgevolg, twee dae na laasgenoemde se vertrek na sy nuwe posisie in Batavia.
1977 – Johan Fourie, SA akteur en leier van ’n teatermaatskappy (* 1 Julie 1913)
1978 – Schalk Pienaar, joernalis en koerantredakteur (* 28 Julie 1916)
Schalk Pienaar was die eerste redakteur van die dagblad 𝘉𝘦𝘦𝘭𝘥. Hy was bekend daarvoor dat hy nie gehuiwer het om die beleid van die Nasionale Party te kritiseer in ’n tyd toe ander koerante dit slaafs ondersteun het nie. In 1965 het hy die redakteur van die destyds nuwe Sondagkoerant 𝘋𝘪𝘦 𝘉𝘦𝘦𝘭𝘥 geword; dit het gelei tot ’n hewige tweestryd met 𝘋𝘢𝘨𝘣𝘳𝘦𝘦𝘬, wat reeds sedert 1947 bestaan het. Binne vyf jaar het 𝘋𝘪𝘦 𝘉𝘦𝘦𝘭𝘥 ongeveer ’n miljoen lesers gehad en ’n gewigtige faktor gehad in die woelinge van die laat 1960’s in Afrikanergeledere. Die koerant se letterkundeblad, sportrubrieke en ander rubrieke het nuwe standaarde gestel, met die gevolg dat 𝘋𝘪𝘦 𝘉𝘦𝘦𝘭𝘥, anders as 𝘋𝘢𝘨𝘣𝘳𝘦𝘦𝘬, ook gewild onder bruin en Engelssprekende lesers geword het.
Die politieke en sosiale spanninge rondom Pienaar het sy gesondheid só aangetas dat hy die tuig as redakteur neergelê het voordat die twee koerante een geword het en ’n nuwe Sondagkoerant, bekend as 𝘙𝘢𝘱𝘱𝘰𝘳𝘵, gestig is. Teen 1974 het sy gesondheid egter verbeter en hy is aangestel as stigtersredakteur van die destyds nuwe dagblad 𝘉𝘦𝘦𝘭𝘥. Aangesien sy gesondheid weer verswak het, het hy die tuig in Januarie 1975 neergelê, en hy is op 12 Oktober 1978 in die ouderdom van 62 jaar oorlede.
1995 – Dana Niehaus, omroeper (* 21 Desember 1918)
2009 – Irene van Wyk, gospelsangeres (* 24 September 1965)
Irene van Wyk was ’n Afrikaanse sangeres wat veral geestelike liedjies gesing het. Sy was vantevore met die musiekpromotor Louis van Wyk getroud gewees. Sy was ook ’n mede-aanbieder op kykNET se skinderprogram, Glitterati gewees. Van Wyk is op 12 Oktober 2009 in ‘n motorongeluk op die R50 naby Delmas oorlede.
2015 – Gene Louw, politikus (* 15 Julie 1931)
Gene Louw was ’n Suid-Afrikaanse politikus. Hy was lid van die Nasionale Party, parlementslid vir Durbanville en die Paarl, administrateur van die Kaapprovinsie (1979–1989), minister van binnelandse sake (1989–1992), nasionale onderwys (1989–1990), openbare werke (1992–1993) en verdediging (1992–1993).
2018 – Roelof Frederik (Pik) Botha, oud Suid-Afrikaanse minister van Buitelandse Sake (* 27 April 1932)
Pik Botha was van 27 April 1977 tot 10 Mei 1994 die land se Minister van Buitelandse Sake en het die taak gehad om Suid-Afrika se binnelandse beleid van apartheid te probeer verdedig in internasionale forums. Met ’n dienstyd van 17 jaar was hy ook een van die wêreld se langsdienende minister van buitelandse sake.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.