13 JULIE

GEBEURE

1900 – Anglo-Boereoorlog: Boere gee pad uit Brandwaterkom

Op ’n krygsberaad onder hoofkommandant Christiaan de Wet besluit die Boere om uit die Brandwaterkom pad te gee voordat hulle vasgekeer word.

1901 – Anglo-Boereoorlog: JP Coetzee tereggestel

Johannes Petrus Coetzee word op hierdie dag te Cradock tydens die Anglo-Boereoorlog gehang. Hierdie sestienjarige seun was skuldig bevind op ’n klagte van moord en hoogverraad. Die moordklagte was voortspruitend uit ’n geveg waartydens ’n Britse soldaat gewond was. Hy was tot die dag voor sy teregstelling in die duister gehou rondom sy vonnis. Al die manlike inwoners van Cradock is die dag gedwing om op die markplein teenwoordig te wees en besighede was gesluit. Johannes was verdwaas met die aanhoor van sy vonnis, maar het homself gehandhaaf. In sy sel het ’n predikant hom gevra om sy sondes te bely. Hy het geantwoord dat sy gewete skoon is, en dat hy niemand probeer vermoor het nie. Ook het hy genoem dat hy by die kommando’s aangesluit het om sy volk te help, en dat as hy daarom moes sterf, hy gereed was. Net voor die skafot oopgeval het, het hy geprewel dat “My Jesus is nou aan my sy.” Sy graf is vandag iewers langs die Visrivier. ’n Britse koerant, die Morning Leader het Johannes se verhoor skerp veroordeel en as onnodig afgemaak. In die Britse parlement was gewaarsku dat hierdie gebeurtenis nog lank in die Afrikaner se harte sal bly sit, en hul hegter as tevore sal saambind.

1937 – Die eerste sooi van die Voortrekkermonument, Pretoria, is gespit

1974 – Britse Setlaarsmonument in Grahamstad ingewy

Die Britse setlaars word in Grahamstad herdenk deur die 1820-Setlaarsmonument wat in 1974 geopen is. Dit is ’n lewende monument en dit bied toneelstukke, musiekuitvoerings en kulturele geleenthede aan en word gerugsteun deur die 1820 Setlaarsvereniging wat in 1920 gestig is deur Walter Stanford en ander nasate van die Setlaars.

1984 – Laaste sitting van ’n wit parlement

Die laaste sitting van ’n wit parlement in Suid-Afrika is op 13 Julie 1984 gehou. ’n Driekamerparlement is bietjie meer as twee maande later, op 22 September, ingestel kragtens die grondwet van 1983. Terwyl beperkte politieke regte in 1964 aan bruines en Indiërs toegestaan is, het swartes slegs politieke regte in die tuislande gehad.

 

GEBOORTES

1910 – Prof. Gabriël Gideon (Gawie) Cillié, komponis, astrofisikus, orrelis en koordirigent († 15 Junie 2000)

Gabriel Gideon (Klein Gawie) Cillié is op Stellenbosch gebore. As wiskundige, sterrekundige en musikus het hy op vele terreine van die kulturele lewe ’n bepalende bydrae gelewer. Ná sy studie aan die universiteite van Stellenbosch, Oxford en Harvard was hy van 1939 tot 1975 hoogleraar in Wiskunde aan die Universiteit van Stellenbsoch. Sy musiekopleiding het hom besonder goed daartoe bekwaam om ’n groot bydrae op die gebied van die volksang en veral die kerkmusiek van die Afrikaner te lewer. Van 1939 tot 1964 was hy orrelis aan die NG Moederkerk op Stellenbosch. Hy het jare lank die Kweekskoolkoor gelei en was mede-uitgewer van die Koraalboek en die Nuwe Halleluja en het verskeie koorwerke gekomponeer. Prof. Cillié was medestigter van die Stellenbosse Studentesangfees, dirigent van die universiteitskoor en medewerker van die nuwe FAK-Sangbundel. Hy het in 1954 lid van die FAK se hoofbestuur geword en is in 1979 tot voorsitter verkies.

1949 – Mudene (Dene) Smuts, tydskrifredakteur en parlementslid († 21 April 2016)

1965 – Hannes Strydom, Springbok-rugbyspeler († 19 November 2023)

 

STERFTES

1865 – Willem Cornelis Janse van Rensburg, tweede president van die ZAR (* 16 Mei 1818)

Willem Cornelis Janse van Rensburg is te Uitenhage, Oos-Kaap, gebore. Hy is in April 1863 as President van die ZAR gekies, maar weier, om verskillende redes, om ingesweer te word. In ’n nuwe verkiesing is hy weer verkies en op 23 Oktober 1863 lê hy die ampseed af. Die burgeroorlog wat daarop sou volg, is in Januarie 1864 bygelê. In ’n tweede Presidentsverkiesing in Maart 1864 is MW Pretorius as President verkies.

1920 – Johannes Jacobus Fagan, komponis van meestal orkesmusiek (* 28 Februarie 1898)

Johannes Jacobus Fagan, gebore op Tulbagh en oorlede op 13 Julie 1920 in Londen was lid van ’n welgestelde en invloedryke familie. Na sy skoolopleiding op Somerset-Wes, studeer hy aan die SA College of Music, Kaapstad (1914) en in 1916 verower hy ’n driejarige beurs om aan die Royal College of Music, Londen te studeer. Weens swak gesondheid keer hy terug na Suid-Afrika en in 1919 geniet sy Prelude vir Orkes sy première deur die Kaapstadse Munisipale Orkes onder leiding van Theo Wendt. Dit was ’n groot prestasie vir ’n 21-jarige. Hy keer terug na Londen, maar as gevolg van toenemende gesondheidsprobleme, gepaard met die dood van sy jong verloofde, het hy selfmoord gepleeg – ’n groot verlies vir Suid-Afrikaanse musiek. Sy broer, Gideon, publiseer Johannes se Soos die windjie wat suis en Die soekende moeder (1931), albei belangrike bydraes tot die Suid-Afrikaanse kunslied. Johannes is die eerste Suid-Afrikaanse komponis wat hom op die gebied van orkesmusiek onderskei het.

2011 – Al Debbo, akteur, komediant en sanger (* 22 Junie 1924)

Al Debbo was ’n bekende Afrikaanse akteur, sanger en komediant.

Hy het sy deurbraak as akteur in 𝘋𝘪𝘦 𝘬𝘢𝘴𝘬𝘦𝘯𝘢𝘥𝘦𝘴 𝘷𝘢𝘯 𝘋𝘰𝘬𝘵𝘦𝘳 𝘒𝘸𝘢𝘬 gemaak nadat hy ’n talentkompetisie gewen het. Daarna was hy en Frederik Burgers in rolprente soos 𝘒𝘰𝘮 𝘴𝘢𝘢𝘮 𝘷𝘢𝘯𝘢𝘢𝘯𝘥, 𝘏𝘪𝘦𝘳’𝘴 𝘰𝘯𝘴 𝘸𝘦𝘦𝘳, 𝘈𝘭𝘭𝘦𝘴 𝘴𝘢𝘭 𝘳𝘦𝘨𝘬𝘰𝘮, 𝘈𝘭𝘵𝘺𝘥 𝘪𝘯 𝘮𝘺 𝘥𝘳𝘰𝘮𝘦, 𝘋𝘪𝘴 𝘭𝘦𝘬𝘬𝘦𝘳 𝘰𝘮 𝘵𝘦 𝘭𝘦𝘸𝘦 en 𝘍𝘳𝘢𝘵𝘴𝘦 𝘪𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘷𝘭𝘰𝘰𝘵 te sien.

Sy latere rolprente waarin hy saam met ander komiese akteurs te sien was, was 𝘉𝘰𝘦𝘳𝘣𝘰𝘦𝘭 𝘥𝘦 𝘞𝘦𝘵, 𝘛𝘰𝘮, 𝘋𝘪𝘳𝘬 𝘦𝘯 𝘏𝘦𝘳𝘳𝘪𝘦, 𝘚𝘵𝘢𝘥𝘪𝘨 𝘰𝘰𝘳 𝘥𝘪𝘦 𝘬𝘭𝘪𝘱𝘱𝘦 en 𝘗𝘦𝘯𝘴 𝘦𝘯 𝘱𝘰𝘰𝘵𝘫𝘪𝘦𝘴. Sy laaste rolprent was 𝘒𝘯𝘪𝘦𝘥𝘪𝘦𝘱, waarin hy teenoor Don Leonard gespeel het.

Hy was net so gewild as sanger, en sy eerste groot treffer was “Hasie”, wat hy in die rolprent 𝘒𝘰𝘮 𝘴𝘢𝘢𝘮 𝘷𝘢𝘯𝘢𝘢𝘯𝘥 gesing het. Hy het in 1968 twee treffers op Springbok Radio se Top 20 gehad, naamlik “Baas Jack” en “Sonbrilletjies”, en in 1970 het hy die trefferslys met “Die tantes van Nantes” gehaal. Sy laaste opname as sanger was ’n nuwe weergawe van “Hasie” saam met Steve Hofmeyr.

Hy is op 13 Julie 2011 in die ouderdom van 87 jaar oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/

Frikkie Wallis Facebook