21 AUGUSTUS

GEBEURE

1655 – Walvisvangery verbied

Kommandeur Jan van Riebeeck het in sy pogings om die verversingspos aan die Kaap te vestig onder meer aan die NOIK se Kamer van Sewentien voorgestel dat grootskeepse walvisvangery aangepak word. Op 21 Augustus 1655 laat die Kamer egter aan Van Riebeeck weet dat die voorstel oorweeg is, “maar ons meen dat ons niks meer winsgewend vir die Kompanjie aan die Kaap kan vind nie as die insameling van robvelle wat die uitgawes voldoende sal bestry. U voorstel om die grootskaalse walvisvangery te stig, sal net ’n bykomende koste beteken en ons raai u aan om dit alleen te laat en liewers u aandag aan meer dringende sake te bestee.” Van Riebeeck het ook teenkanting van sy “Meesters” ondervind om sy mannekrag van 50 tot 163 uit te brei, veral met die oog op die fortbouery. Hulle het net honderd aan hom toegestaan, omdat hy “moet onthou dat die koste op ’n minimum gehou moet word.”

1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Bergendal

Die Slag by Bergendal, naby Vanwyksvlei, begin. Genl. Joachim Fourie se mense dwing die 11de Hussars om terug te trek, met 7 vermoor, 3 vermis, veronderstel dood en 26 gewond. Duur tot 27 Augustus 1900.

1912 Brief van gelukwensing van lord Roberts aan genl. Louis Botha

Genl. Louis Botha is in 1912 tot eervolle generaal in die Britse leër bevorder. Dit het tot op daardie stadium nog nooit in die Britse militêre geskiedenis gebeur nie. Vir Botha en vir Suid-Afrika moes dit as ’n besondere eer gedien het. Lt.-kol, John Seely, as minister van oorlog in die Britse kabinet, en sir John French, wat ’n Britse generaal in die Engelse Oorlog was, was persoonlik hieroor verheug. Onder bostaande datum het ook lord FS Roberts, wat die Britse opperbevelhebber in Suid-Afrika in 1900 se jare was, ’n brief van gelukwensing aan Botha gestuur. Hierin verwelkom hy Botha as ’n belangrike toevoeging tot die Britse leër en is hy dankbaar dat hy Botha voortaan ’n broer-offisier kan noem. Tot dusver die gelukwensings. Dit was egter hierdie soort ding wat die getroue Afrikanerdom aan Botha as mede-Afrikaner laat twyfel het. Daarom het hulle hom ook polities algaande verlaat en saam met genl. Hertzog binne sy politieke beginsels hulle kulturele, maatskaplike en staatkundige Afrikanerideale nagestreef.

1914 – Afrikanerrebellie

Die insident by Schuitdrift in die Oranjerivier tussen Suid-Afrika en Duitswes-Afrika vind plaas.

GEBOORTES

1943 – Tertius Willem Jacobus (Tolla) van der Merwe, storieverteller en komediant († 7 Augustus 2000)

Tolla van der Merwe was ’n televisiepersoonlikheid, storieverteller en komediant. Hy was gereeld op SAUK2 se program Maak ’n Las te sien. Sy seun, die bekende Wicus van der Merwe, is self ’n noemenswaardige sanger.

1944 – Eleanor Baker, skrywer († 1 Julie 2002)

Eleanor Baker was ’n skrywer wat 15 romans, twee draaiboeke en verskeie jeugboeke oor haar loopbaan geskryf het. Van haar boeke is onder die skuilname Christine le Roux en Alex Muller gepubliseer.

STERFTES

1938 – Dr. Frans Vredenrijk (FV) Engelenburg, Suid-Afrikaanse joernalis en koerantredakteur en twee keer voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (* 17 Maart 1863)

Frans Vredenrijk Engelenburg is in Arnhem gebore as seun van ’n welgestelde Hollandse familie. Hy verwerf sy doktorsgraad in 1887 in Leiden en kom in 1889 na Suid-Afrika. Hy word in dieselfde jaar aangestel as redakteur van De Volksstem. Nadat hy gedurende die Anglo-Boereoorlog deur die Engelse owerheid uit Natal verban is, toer hy twee jaar lank deur Europa. Hy keer in 1903 terug na Pretoria, nadat hy dr. WJ Leyds in Europa behulpsaam was met ’n inligtingsdiens oor die oorlog in Suid-Afrika, en hervat sy redakteurskap van De Volkstem. In 1904 was hy stigterslid van Het Volk, die politieke party van die Transvaalse regering. Hy was in 1909 lid van die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Vredeskongres in Parys. Dr. Engelenburg was ’n belese man wat geglo het dat objektiewe beriggewing die toetssteen van goeie joernalistiek is. Nie alleen was hy as joernalis goed toegerus vir sy taak nie, maar sy artikels toon ook dat hy openbare mening kalm en sonder onnodige vooroordeel kon weergee. As stigterslid van die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst laat hy na sy dood op 21 Augustus 1939 sy woning aan die volk na. Die Akademie se hoofkwartier is daar gesetel. Die Engelenburg-huis is ’n museum, met die Akademieraad as kurator.

1978 – Dr. Nicolaas Johannes (Nico) Diederichs, politikus en derde Staatspresident van Suid-Afrika (1975–1978) (* 17 November 1903)

Die Suid-Afrikaanse politikus Nicolaas Johannes Diederichs is op 17 November 1903 in Ladybrand gebore. Hy sluit by die Nasionale Party aan en word tot die parlement verkies vir Randfontein in 1948, in 1958 vir Losberg en eindelik vir Overvaal in 1974. Nicolaas Johannes Diederichs het ook in 1940 die hoofleier van die Reddingsdaadbond geword en hom daarvoor beywer om die Afrikaner op ekonomiese gebied tot sy reg te laat kom. Hy was ook sekretaris van die Ekonomiese Instituut van die FAK gedurende die tyd. Hy is van 1958 tot 1967 Minister van Ekonomiese Sake en van 1961–1964 ook Minister van Mynbou. As Minister van Finansies gedurende die tydperk 1967–1975 speel hy ’n leidende rol in die kabinet. Gedurende die tydperk het sy ywer oor die hele wêreld om die erkenning van goud te bevorder, hom wêreldwyd as Mnr. Goud laat bekend staan. Op 19 April 1975 word hy as Suid-Afrika se Staatspresident ingehuldig en vanaf 19 April 1975 tot en met sy dood op 21 Augustus 1978 in Kaapstad beklee hy die amp van Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika en word deur Marais Viljoen opgevolg.

2014 – Verna Vels, skryfster en omroeper (* 13 Junie 1933)

“Haai oe, Blommie!” Daar is seker nie een Afrikaanssprekende persoon wat nie met Liewe Heksie grootgeword het, of na die televisiereeks gekyk het nie.

Die skepper van hierdie legendariese karaktertjie was Verna Vels, wat op Reitz in die Vrystaat gebore is en gematrikuleer het en in 1953 haar BA-graad met Afrikaans/Nederlands, Engels en Kunsgeskiedenis as hoofvakke aan die Universiteit van Pretoria verwerf het. Die volgende jaar het sy by die SAUK se kantore in Durban as omroeper begin werk. Sy was vir die res van haar professionele lewe by radio-en televisiewerk betrokke en het die draaiboek vir die rolprent 𝘓𝘢𝘨 𝘮𝘦𝘵 𝘞𝘦𝘯𝘢: ’𝘯 𝘈𝘧𝘳𝘪𝘬𝘢𝘢𝘯𝘴𝘦 𝘧𝘪𝘭𝘮𝘬𝘰𝘯𝘴𝘦𝘳𝘵 met die legendariese aktrise Wena Naudé in die hoofrol, geskryf.

Aan die begin het sy die eerste Liewe Heksie-storie geskryf onder die titel 𝘉𝘭𝘰𝘮𝘮𝘪𝘦 𝘒𝘢𝘣𝘰𝘶𝘵𝘦𝘳 𝘦𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘩𝘦𝘬𝘴 𝘸𝘢𝘵 𝘴𝘰 𝘣𝘢𝘪𝘦 𝘷𝘦𝘳𝘨𝘦𝘦𝘵 𝘩𝘦𝘵. Sy het egter gou besluit om Liewe Heksie, wie se naam eintlik Levinia was, die hoofkarakter te maak. Die res is geskiedenis; die boeke waarin die verskillende stories gepubliseer is, en die langspeelplate, waarop sy al die karakters se stemme nagemaak het, was uiters suksesvol. Later is die stories verfilm; Riaan Cruywagen was verantwoordelik vir Koning Rosekrans se stem, asook dié van die Gifappeltjies, terwyl Roelf Jacobs die stem van Karel Kat behartig het.

Sy het Hennie Human as direkteur van die destydse TV1 opgevolg en was die eerste vrou wat tot die vlak van seniorbestuurder bevorder is, en die laaste twaalf jaar van haar lewe was sy die toesighoudende regisseur van die Afrikaanse sepie 7𝘥𝘦 𝘓𝘢𝘢𝘯. Sy is op 21 Augustus 2014 oorlede nadat borskanker by haar gediagnoseer is.

2023 – Theuns Stofberg, Springbok-rugbyspeler (* 6 Junie 1955)

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/