23 MAART – OPTREDE TEEN DIE MATABELE

Intussen het ’n nuwe trek die Oranje oorgetrek, dié van Gerrit Maritz uit Graaff-Reinet. Hy was ’n wamaker en een van die rykste manne daar. Maritz het grond besit en as regsagent opgetree. Met sewe spoggerige waens, blou geverf en met ’n mooier fatsoen as die gewone, het hy op trek gegaan. Hy het heelwat boeke by hom gehad: teologiese en regsboeke, onder meer van Hugo de Groot, en Frans-Nederlandse en Nederlands-Engelse woordeboeke. Saam met Maritz se trek was drie van sy broers, sy suster Susanna en haar man Erasmus Smit, en ander verlangse familie, almal redelik welgesteld en mense van aansien.

Die trek het Thaba Nchu op 19 November 1836 bereik, kort nadat Potgieter van Vegkop aangekom het. Maritz was net so ’n indrukwekkende man, ongeveer ewe lank ook, as Potgieter. Dié twee was albei sterk persoonlikhede en ware leiers. Hulle het op 2 Desember 1836 ’n volksvergadering belê, en daar het die “algemene volkstem” ’n “burgerraad” van sewe “regters” gekies wat wette moes maak en besluite van die vergadering uitvoer. Maritz is tot “president-regter” gekies; die ander lede was Potgieter, JGS Bronkhorst, CJ Liebenberg, P Greyling, D Kruger en S Janse van Vuuren. Potgieter was kommandant-generaal van die verenigde trek; hy was immers die aanvoerder by Vegkop. Hy het dadelik begin klaarmaak vir ’n stryd teen die Matebele, wat hulle vee weggevoer en die gebied onveilig gemaak het.

Op 2 Januarie 1837 is Potgieter met ’n kommando weg, en die volgende dag Maritz – saam was hulle maar 107 burgers, 60 Barolongs en 40 Griekwas en Koranas onder Pieter Dawids. Vroeg die oggend van 17 Januarie is die Matebele in Mosega verras. Gou het hulle hul ou taktiek toegepas om twee vleuels uit te stoot wat die vyand moes omsingel. Maar hierop was die twee trekkerleiers bedag en het die twee vleuels telkens met swaar verliese teruggedryf. Die mislukking van hul taktiek het die Matebele gedemoraliseer en op die vlug laat slaan. Meer as 500 het gesneuwel. Maritz en Potgieter het meer as 7000 beeste gebuit. Maar hulle was onversoenbare persoonlikhede, en wrywing het ontstaan tussen die selfversekerde dorpenaar en sakeman Maritz en die ervare veldkenner en militêre leier Potgieter. Die gevaar was kleiner en omdat daar soveel vee was, het die trekkers versprei, die Potgieter-mense in die Vetrivier-omgewing. Hulle het ’n paar huisies op Potgieter se plaas Waaifontein gebou en dié eerste Boeredorp Winburg genoem.

Hoewel Mzilikazi verslaan is, was hy nog ’n bedreiging en dus het die trekkers voorlopig gebly waar hulle was. Hulle het wel bietjie meer uitgesprei. Die toekoms was nog maar duister. Om te slaag, moes die getalle van die trekkers toeneem, en moes daar ’n Afrikaner opstaan met die nodige leiersgawes om hulle te verenig en na ’n bepaalde bestemming te lei. Die man wat dit sou doen, was reeds op pad. Op 28 Maart 1837 het die trekkers die nuus ontvang dat Piet Retief die Oranjerivier deurgetrek het. Piet Retief, op 12 November 1780 in die Wamakersvallei (Wellington) gebore, het in die Boland grootgeword en die skryfkuns goed bemeester. Hy het verskeie geldelike terugslae beleef deur swak oordeel en ongunstige omstandighede. In Maart 1834 moes hy boedel oorgee, maar het die respek van sy medeburgers behou.