SUID-AFRIKA EN DIE “GROOT OORLOG”

Totdat die Tweede Wêreldoorlog sy naam gekry het, was die Eerste Wêreldoorlog bekend gestaan as die “Groot Oorlog” (of “Volkere-oorlog”). Maar die oorlog het Afrikaans indirek bevorder. Nadat die Rebellie onderdruk is, het Suid-Afrika Duits-Suidwes-Afrika in besit geneem onder persoonlike bevel van genl. Botha. In Mei 1915 het sy magte Windhoek binnegeruk en op 9 Julie het die Duitse goewerneur, Theodor Seitz naby Tsumeb oorgegee. Voorlopig het amptenare en polisie die gebied beheer, maar ná die vredesverdrag tussen Duitsland en die Geallieerdes het die mandaatkommissie van die Volkebond die beheer daaroor in 1920 aan Suid-Afrika opgedra. Die naam het Suidwes geword, hoewel ouer mense dit Duitswes bly noem het. Baie Afrikaners is daarheen, en hulle het die Afrikaanse element so versterk dat Suidwes in die tweede helfte van die 20ste eeu die mees Afrikaanse deel van Suider-Afrika was.

Nadat Suidwes verower is, het genl. Jan Smuts in 1916 die bevel van die Suid-Afrikaanse en Britse magte in Oos-Afrika oorgeneem. Hy het ’n swaar stryd gehad teen die Duitsers onder aanvoering van genl. Paul von Lettow-Vorbeck. Teen die einde van die oorlog was Duits-Oos byna heeltemal verower, maar Von Lettow en sy manskappe het met die bystand van swart hulptroepe of askari’s die stryd op Portugese bodem voortgesit en eers aan die end van die oorlog die wapen neergelê. Daarna het Suid-Afrikaanse vrywilligers aan die oorlog in die noorde deelgeneem. Die SA Infanteriebrigade onder brig.genl. Henry Lukin het bygedra tot die geslaagde verdediging van Egipte teen die Turke. Daarna het hulle saam met die Britse magte in Frankryk geveg. Tussen 15 en 19 Julie 1916 het hulle in Delvillebos swaar verliese gely tydens die veldslag aan die Somme. Vyf offisiere en 750 manskappe het oorgebly uit ’n totaal van 121 offisiere en 3032 manskappe. Slegs drie offisiere en 140 man het ongeskonde oorleef; baie ander was gewond. Swart mans het as arbeiders aan die stryd deelgeneem. Die troepedraer SS Mendi het op 21 Februarie 1917 in die Engelse Kanaal teen ’n vragskip gebots en 616 Suid-Afrikaners, onder wie 607 swart mense, het verdrink.

In Januarie 1917 het Botha Smuts teruggeroep en na Londen afgevaardig om aan die Rykskonferensie deel te neem. Hy is in Engeland as held verwelkom. Groot ophef is van hom gemaak as eertydse teenstander wat Britse staatsman geword het. Lloyd George het hom in sy oorlogskabinet opgeneem. Baie Afrikaners het egter sy samewerking met Brittanje min of meer as verraad beskou, en hy het die bynaam “handyman van die Empire” gekry. Botha en Smuts het die Vrede van Versailles met groot teensin geteken omdat die oorwinnaars sulke harde vredesvoorwaardes aan die oorwonne Duitsland opgelê het. Hulle het albei daarteen gepraat en dit beskou as ’n toekomstige bedreiging vir die vrede. Die geskiedenis het hulle reg bewys. In ’n pleidooi vir gematigdheid het Botha in Parys sy hande op Milner se skouers gesit en gesê dat die Vrede van Vereeniging “not unjust” was, ’n “generous peace”. Toe die Duitsers op 28 Junie 1919 die vernederende verdrag onderteken, het die Boer Botha in sy sakboekie geskryf: “Vandag gedenk ek 31 Mei 1902”.

Botha was reeds ’n siek man toe hy in November 1918 uit Suid-Afrika vertrek het. Die maande onder die vredemakers het hom vermoei. In Augustus 1919 het hy op sy plaas in Standerton ’n swaar verkoue opgedoen en na Pretoria gereis. Hy is op 27 Augustus 1919 op 56-jarige leeftyd aan ’n hartaanval oorlede. Daar is historici wat meen dat hy ’n slagoffer was van ’n derde golf van die Spaanse griep in 1919. Botha was ’n fyngevoelige man, byna oorsensitief. DC Boonzaier se spotprente in De Burger het hom erg gekwets; hy is soms byna afstootlik voorgestel. Gustav Preller was van mening dat die spotprent die magtigste middel in die Suid-Afrikaanse politiek was. Volgens die historikus DW Krüger kon Botha beskuldigings van mede-Afrikaners nie verduur nie en hy het nie geskroom om soms politieke teenstanders vir laster te dagvaar nie. “In werklikheid was hy egter ’n mensliewende, sjarmante man.” Sy huis het altyd oopgestaan vir mense met probleme. ’n Ernstige belemmering was buie van neerslagtigheid wat hom veral ná 1914 oorval het. In sy jong dae was hy ’n lang aantreklike man, maar weens min oefening en ’n voorliefde vir soetigheid nadat hy ophou rook het, het hy geset geraak, “selfs massief” (DW Krüger).

Botha se opvolger, genl. Smuts, was die grondlegger van die Suid-Afrikaanse Lugmag en as lid van die Britse oorlogskabinet ook van die Britse Lugmag. Die Suid-Afrikaanse Lugmag het op 1 Februarie 1920 tot stand gekom hoewel dit eers vanaf 1 Februarie 1923 as ’n eenheid van die herstruktureerde Unieverdedigingsmag bestaan het.

Smuts het sir Pierre van Ryneveld (1891-1972) aangestel as bevelvoerder van die Lugmag. In die Eerste Wêreldoorlog het hy in die Royal Flying Corps diens gedoen en verskeie militêre toekennings ontvang. Hy het beroemd geraak weens sy historiese vlug saam met sir CJ Quinton Brand in 1920 van Londen na Kaapstad via Kaïro. In 1920 het The Times ’n prys van £10 000 uitgeloof vir die eerste vlieënier wat van Londen na Kaapstad vlieg. Brand (1893-1968) het ook geveg in die Eerste Wêreldoorlog en was ’n offisier in die Britse Lugmag. Van Ryneveld is op Senekal gebore en Brand in Kimberley.