“DIE STORIE VAN ONS STERFTE”
“Ja, neef, wat kan ek, oumens, jou vertel? / Jy wil die storie van ons sterfte hoor? / Nou goed!” So begin die titelgedig van Oom Gert vertel en ander gedigte van C Louis Leipoldt (1911). Hierdie bundel het bo enige twyfel die waarde van Afrikaans as literatuurtaal bewys. Die Nederlandse taalkundige CGN de Vooys het verklaar dat Leipoldt hom meer as enigiemand anders vas oortuig het van “die lewensvatbaarheid van ’n Afrikaanse letterkunde”. Die digter en letterkundige Albert Verwey noem Leipoldt se poësie “de onmiddellijke weergave van de dichterlijke inhoud van Zuid-Afrika”.
Leipoldt, gebore 1880, het al van jongs af skryfwerk gedoen en in 1898 in diens getree van De Kolonist. Die pro-Rhodesbeleid van die blad het hom nie aangestaan nie en hy het Hollandse verslaggewer van die South African News geword. Dié het hom in die oorlog na die noordoostelike front gestuur. As oorlogskorrespondent het hy in 1900 en 1901 verhore van Kaapse rebelle bygewoon. In dié tyd het hy begin werk aan gedigte wat later in sy eerste digbundel verskyn. ’n Skets, “De rebel”, in Nederlands maar met Afrikaanse dialoog, was voorloper van “Oom Gert vertel” en is 1900 in die Nederlandse kunstydskrif Elsevier’s Geïllustreerd Maandschrift geplaas. Vroeg in 1902 is hy in Londen en het daar sy mediese opleiding ondergaan en as medikus gewerk.
Op 11 Mei 1911 was hy saam met onder andere die latere dramaturg en joernalis HA Fagan, die veearts Guillaume Marais en die taalkundige JJ Smith oprigters van ’n Afrikaanse vereniging. Leipoldt het Smith eendag ’n pak los papiere gewys met die woorde: “Dé, Smith, jy hou mos van sulke ou rympies. Lees die goed op jou gemak maar deur en sê my dan wat jy daarvan dink.” Smith het die pak papiere –Leipoldt se Afrikaanse verse oor baie jare – met verrassing en stygende bewondering gelees. Hy het by Leipoldt daarop aangedring om die gedigte uit te gee. Leipoldt het Smith gevra om die bestes uit te soek en ’n inleiding daarvoor te skryf. Leipoldt het self die drukkoste van £27 10s. vir die oplaag van 1000 betaal.
Die bundel bevat verskeie ander groot oorlogsgedigte soos “’n Nuwe liedjie op ’n ou deuntjie”, “In die konsentrasiekamp”, “Aan ’n seepkissie” (“Hulle het jou in Engeland gemaak, seepkissie / Om hier in ons land as ’n doodkis te dien”) en “Vrede-aand” (“Kom, hier’s ’n bottel soetwyn; laat ons drink! / Ons het ons nasie in die see gesink; / Ons het geen land meer nie; dis klaar met Kees!”). Ook Jan FE Celliers en Totius het “die storie van ons sterfte” vertel – Totius onder meer in “Vergewe en vergeet” en Celliers in “Die kampsuster”: “Die kindertjies, Breggie en Japie en Faan, / het suster die een ná die ander sien gaan; / en jy sê daar’s ’n plekkie vir my nog gebly, / waar moeder kan rus aan klein Fanie se sy”
NP van Wyk Louw meen dat dié digters meer gedoen het vir die opwekking van die Afrikaanse volk tot nasionale trots en bewussyn as enige politikus. Hulle het ’n nuwe lewe vir die Afrikaner moontlik gemaak nadat die oorlog en die vernedering van die verlore vryheid dit laat lyk het of die Afrikaner as volk moet verdwyn.