4 JUNIE
GEBEURE
1652 – Die eerste familie aan die Kaap trek in die fort in
1848 – Andries Pretorius se vrou sterf
Die Voortrekkerheld Andries Pretorius se vrou, Christina, was ernstig siek aan ’n ongeneeslike kwaal, toe hy deur die burgers van die Transgariep (Oranje-Vrystaat) op sy plaas Rust-der-Ouden genader is om hulle te lei in ’n poging om die Engelse juk af te werp. Vanweë sy vrou se siekte weier Pretorius, hoewel hy die saak simpatiekgesind is. Sy dapper vrou hoor die gesprek en roep haar man die siekekamer binne, waar sy hom kalm meedeel: “My kan jy die lewe tog nie gee nie, Andries; jou landgenote roep jou – gaan kyk wat jy vir hulle kan doen.” In haar man se afwesigheid het haar toestand verswak en het haar kinders haar gebring na ’n warmer klimaat, digby die huidige Warmbad, waar sy stil gesterf het, sonder dat haar man haar ooit weer lewend gesien het. Danksy die onvermoeide ywer veral van Eugène Marais en Gustav Preller is haar graf in 1938 opgespoor en is daar in die Eeufeesjaar ’n paslike monument ter nagedagtenis van hierdie dapper vrou opgerig.
1901 – Anglo-Boereoorlog: Emily Hobhouse pleit vir verbetering
Die Britse minister van oorlog, St John Broderick, staan ’n onderhoud aan Emily Hobhouse toe. Sy pleit vir verbetering in die lewensomstandighede van die konsentrasiekamp-inwoners. Sy beskryf die haglike toestande in Suid-Afrika in die fynste besonderhede.
1930 – Die Afrikaansmedium-laerskool in Wynberg, Kaapstad, kry sy naam, die Laerskool Simon van der Stel
GEBOORTES
STERFTES
1956 – Dr. Hugo Gutsche, komponis van o.a. “Die lied van jong Suid-Afrika” (* 18 Julie 1869)
Hugo Gutsche was ’n seun van ’n Duitse sendeling en is op 18 Julie 1869 in King William’s Town gebore. Hy is in Duitsland as predikant opgelei en het tien jaar lank in Oos-Kaapland gedien voordat hy in 1904 tot die onderwys toegetree het. Hy het mettertyd skoolinspekteur in Transvaal geword en het die laaste dertig jaar van sy lewe in Heidelberg gewoon. Hugo Gutsche het veral bekend geraak as die komponis van “Die Lied van jong Suid-Afrika” en as die hoofredakteur van die eerste FAK-Volksangbundel. Sy liefde vir die volkslied en volksang is gestimuleer deur sy ontmoeting met dr. AG Visser en hulle het saam gepoog om ons eie volksmusiek te verryk veral deur Duitse volksliedere in Afrikaans te vertaal. In Eitemal en Theo Jandrell het Gutsche nog twee belangrike medewerkers gekry. In vier Dageraad-bundels vir skole het 200 liedere verskyn, en 31 liedere vir studente het in Lus en Lewe verskyn. Hierdie bundels was ’n hoofbron vir die eerste FAK-Volksangbundel van 1937. Daar was ander belangrike bronne waaruit Gutsche geput het toe die FAK hom opdrag gegee het om ’n volksangbundel saam te stel. Nico Mansvelt se Hollands-Afrikaanse Liederbundel van 1907 en Joan van Niekerk se Groot Afrikaans-Hollandse liederbundel van 1927 het tesame 28 liedere opgelewer. Dr. CF Visser se “Ou liefde roes nie”, Langenhoven se “Ou Liedjies” en versamelings gemaak deur die ASB en die studente van Stellenbosch is ook gebruik. Die redaksie van die Volksangbundel het uit Hugo Gutsche, Eitemal en Stephen Eyssen bestaan. Eyssen het hom veral beywer om soveel moontlik van ons eie volksliedere in die bundel te kry en sodoende te verseker om dit ’n Afrikaanse karakter te gee en Afrikaanse erfgoed te bewaar. Maar Gutsche het die leiding geneem, die beleid bepaal en verreweg die grootste bydrae gelewer. Hy het ’n bundel saamgestel wat een van die heel beste aftrek gekry het van alle Afrikaanse publikasies. Hy het daarvoor gesorg, met die hulp van verskeie woordkunstenaars, dat liedjies soos “Taraboemdery”, “My nooi’ntjielief in die moerbeiboom”, “Jy is my hartedief”, “Dis heerlike lente”, “Die bootjie na Kammaland” en vele ander ook ons volksliedere geword het.
1972 – Godfried Andreas (GA) Watermeyer, digter (* 15 Oktober 1917)
GA Watermeyer was ’n digter en baanbreker vir Afrikaans in die reklamebedryf.
2015 – Ena Murray, skryfster (* 27 Desember 1936)
Ena Murray was ’n Afrikaanse skrywer van ontspanningsleesstof, wat meer as 130 boeke in haar loopbaan skryf. Sy is al as “die mees gelese skrywer in Afrikaans” beskryf.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.