5 MAART

GEBEURE

1812 – Pokke-epidemie breek uit

Nog ’n pokke-epidemie het op 5 Maart 1812 in die Kaap uitgebreek, 99 jaar ná die eerste geval daar aangemeld is. Die eerste voorkoms van pokke in die land was in 1713 toe ’n skip in die hawe toegelaat is waarvan die helfte van die bemanning pokke onder lede gehad het. Sowat die helfte van die VOC se slawe en ’n kwart van die inwoners het gesterf. Die Strandlopers is met hierdie epidemie uitgewis. In 1755 het 2000 Kapenaars binne ses maande gesterf toe besmette klere van ’n retoervloot gekoop is, met veral talle mense wat tot by Swellendam uitgewis is. In 1767 is sowat 750 Kaapse inwoners dood toe pokke deur die bemanning van ’n skip van Denemarke oorgedra is. In 1771 het goewerneur Joachim van Plettenberg besluit dat Robbeneiland as kwarantynstasie ingerig word, met slawe wat immuniteit opgebou het, wat die verpleërs wees. Inentings is in 1893 verpligtend gemaak en die laaste pokke-epidemie in Suid-Afrika was in 1949.

1824 – Die South African Journal en Zuid-Afrikaansche Tijdschrift in Kaapstad gestig

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Houwater, Prieska

1924 – Die eerste eendaagse vlug tussen Kaapstad en Pretoria

 

GEBOORTES

1796 – Karel Pieter (Karel) Landman, ’n Voortrekkerleier en tweede in bevel tydens die Slag van Bloedrivier († 2 April 1875)

Karel Landman was ’n Voortrekkerleier van die grootste trekgeselskap en tweede in bevel onder generaal Andries Pretorius tydens die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838.

1839 – Johannes Francois Celliers (Jan Volkstem), joernalis, koerantredakteur en politikus, en vader van Jan FE Celliers, die digter († 4 Maart 1895)

Johannes Francois Celliers is in die distrik Malmesbury gebore, ontvang sy onderrig in die Paarl. Op 24-jarige leeftyd word hy joernalis by Het Volksblad. Op versoek van pres. Burgers gee hy op 8 Augustus 1873 ’n pro-regeringskoerant, De Volksstem, in Pretoria uit, wat as teenvoeter vir die Engelse koerante sou dien. As gevolg van hierdie openlike steun aan die Transvaalse burgers wat Celliers in sy blad uitspreek, word hy in 1880 ’n maand lank deur die Britse regering in die gevangenis gehou. Onder leiding van genl. Joubert word ’n bedrag geld ingesamel om Celliers in staat te stel om sy blad na sy vrylating weer uit te gee. In 1881 word Celliers Volksraadslid en sekretaris van die Afrikanerbond. In 1881 verkoop hy sy drukkery aan die regering, waarna dit die grondslag vorm vir die staatsdrukkery, en hy wy hom tot sy dood op 4 Maart 1895 aan die politiek. JF Celliers was die vader van Jan FE Celliers, een van ons bekende Afrikaanse digters.

1865 – Rachel Isabella (Tibbie) Steyn, vrou van pres. MT Steyn († 3 Januarie 1955)

As pastorie-dogter van Philippolis uit Skotse ouers (ds. en mev. Colin Fraser) sou Rachel Isabella as opgeleide onderwyseres ’n besondere rol in die geskiedenis van die Afrikaner speel. Sy tree in 1887 in die huwelik met advokaat MT Steyn en word daarna eers regters- en uiteindelik in 1896 Staatspresidentsvrou. Hierdie hoedanigheid beklee sy met waardigheid in die Presidensie sowel as op hul plaas, Onze Rust. Gedurende die Anglo-Boereoorlog wyk sy aanvanklik saam met die regering uit, maar sedert die helfte van 1900 is sy as gevangene in huisarres in Bloemfontein aangehou, waar dikwels onbehoorlike druk op haar uitgeoefen word om die bittereinder pres. Steyn te oorreed om oor te gee. Met Steyn se ernstige siekte by die vredesonderhandelinge is sy die een wat intree en teen alle advies reël dat hy vir mediese behandeling na Europa geneem word. Deur haar troue sorg keer die Steyn-gesin in 1905 na Suid-Afrika terug. Steeds bly sy die sjarmante en innemende gasvrou op Onze Rust. Saam met Steyn wy sy haar aan volksopbou: sy word tot eerste voorsitster van die Oranje-Vrouevereniging verkies; vervul ’n belangrike skakel deurlopend met haar vriendin Emily Hobhouse, en as laaste skakel met die presidentsamp van die eertydse Republieke, tree sy by talle volksfeeste op. In 1948 is sy per vliegtuig as buitengewone gesant na Nederland om Suid-Afrika by Juliana se troonopvolging te verteenwoordig. Op 8 Oktober 1948 huldig die FAK haar as een van Suid-Afrika se uitnemendste volksheldinne by ’n geleentheid wat saamgeval het met ’n landwye huldiging van volksheldinne op Krugerdag van daardie jaar. Sy sterf op 3 Januarie 1955, byna negentig jaar oud, en word in dieselfde graf as pres. Steyn by die Vrouemonument ter ruste gelê.

1906 – Siegfried Mynhardt, akteur († 29 Maart 1996)

Gebore in Johannesburg en as predikantseun getoë in Wynberg, Kaap, en Carnarvon, tree Siegfried Mynhardt in 1929 toe tot die toneelberoep as lid van die geselskap van Hendrik Hanekom, waarna hy waardevolle vorming ondergaan by bekende toneelfigure soos Paul de Groot, Anna Claassen en André Huguenet, voordat hy in 1937 na Engeland gaan waar hy lid word van die beroemde Old Vic-geselskap. Hy keer in November 1940 na sy vaderland terug, en stig sy eie Afrikaanse toneelgeselskap. In 1945 tree hy en sy geselskap voor die Suid-Afrikaanse troepe op in Noord-Afrika, Italië en Oostenryk. Hy is in 1947 mede-regisseur van en vertolk hy ook die rol van Laertes in die Afrikaanse opvoering van Hamlet in Johannesburg, waarna hy as lid van die eerste geselskap van die Nasionale Toneelorganisasie aangestel word. Siegfried Mynhardt is een van die veelsydigste spelers op die Suid-Afrikaanse verhoog, is volkome tweetalig en het hom ook onderskei as radio-, film- en televisiespeler. Hy ontvang in 1957 die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Erepenning vir Toneelkuns (spel).

1931 – Leon Rousseau, skrywer en stigterslid van Human & Rousseau († 24 Februarie 2016)

Leon Rousseau was ’n uitgewer en saam met Koos Human medestigter van die uitgewersfirma Human & Rousseau. As Afrikaanse skrywer word hy veral bekend vir sy wetenskapfiksie-reeks oor Fritz Deelman en sy biografie oor Eugène Marais, “Die groot verlange”, waarmee hy die CNA-prys verwerf.

1946 – Charles Arnold Fryer, digter en uitgewer († 13 November 2014)

Charles Fryer was ’n Afrikaanse uitgewer, Suid-Afrikaanse digter en dramaturg. Hy was werksaam by Tafelberg-Uitgewers totdat hy in 2002 deur ’n beroerte-aanval gedwing was om te bedank. Hy het in 1978 sy eie digbundel, Rooiwielwa die lig laat sien.

1946 – Anton Goosen, sanger

Anton Goosen is die eerste Afrikaanse sanger wat ’n album vrygestel het waarop hy al die musiek en woorde van elke snit geskryf het. Hy is op 5 Maart 1946 gebore en na ’n loopbaan in die onderwys het hy hom by 𝘋𝘪𝘦 𝘏𝘶𝘪𝘴𝘨𝘦𝘯𝘰𝘰𝘵 aangesluit en onder die skuilnaam Jantjie Blom geskryf. Sy loopbaan as liedjieskrywer het werklik begin toe hy ’n onderhoud met Sonja Herholdt gevoer het nadat haar enkelsnit “Ek verlang na jou” ’n treffer geword het. Sy het na liedjies vir haar debuutalbum gesoek en hy het haar vertel dat hy ’n liedjieskrywer is. Hulle het mekaar weer gesien en onder sy komposisies was “Jantjie” die eerste een wat sy opgeneem het. Later het hy liedjies vir onder meer Laurika Rauch en Carike Keuzenkamp geskryf voordat hy bekendheid as sanger verwerf het.

 

STERFTES

1832 – Augusta de Mist, dagboekskrywer (* 15 November 1783)

Jonkvrou Julie Philippe Augusta de Mist is in Kempen, Nederland, as die jongste van tien kinders gebore. Toe kommissaris-generaal De Mist in 1803 na die Kaap gekom het om die oordrag van die Kaap van Brittanje te aanvaar en ’n nuwe bewind daar te stel, het jonkvrou Augusta de Mist, wat toe 18 jaar oud was, hom vergesel. Sy het ’n lang reis die afgesonderde binneland in meegemaak. Haar indrukke en wedervarings op hierdie reis het sy in ’n dagboek opgeteken, wat later in ’n Nederlandse vrouetydskrif gepubliseer is. Die bekende reisiger Lichtenstein, wat as medikus die reis meegemaak het, vertel dat Augusta de Mist ’n buitengewone jong meisie was met ’n sterk wil en vasberadenheid, by haar innemende geaardheid en vroulike voorkoms. Volgens haar portret, was sy ’n aantreklike meisie met fynbesnede gelaatstrekke. Die dagboek van Augusta de Mist word as ’n waardevolle kultuurhistoriese dokument beskou. Veral wat die uitbeelding van die pionierslewe aan die Kaap aan die begin van die 19de eeu betref. Augusta de Mist is in 1805 met haar vader terug na Nederland, waar sy in 1809 met baron Anton de Howen getroud is. Sy is op 5 Maart 1832 in Nijmegen, Nederland, oorlede.

1985 – Topsy Smith, jeugboekskrywer (* 12 Julie 1914)

Topsy Smith was ’n skrywer wat ongeveer 200 boeke geskryf het. Hy is veral bekend vir sy jeugverhale, onder andere reekse soos Trompie, Saartjie en Buksie. Sy boeke het ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer en het jongmense vir baie jare lank lus vir lees gemaak.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/

Frikkie Wallis Facebook