
6 JUNIE
GEBEURE
1488 – Dias seil om die Kaap
Die Portugese seevaarder, Bartolomeu Dias, se triomfantlike reis om die suidpunt van Afrika het bykans sewentien maande geduur (Julie 1487 tot Desember 1488). Dias het nie alleen sowat veertienhonderd myl nuwe kuslyn ontdek nie, maar sy grootste prestasie lê daarin dat die suidpunt van Afrika vir die eerste keer omseil is en dat die seeweg na die Indiese Oseaan ontdek is. Hy maak dus Suid-Afrika aan Europa bekend. Dias plant ook twee klipkruise as die eerste Europese Christelike bakens op Suid-Afrikaanse bodem: by Kwaaihoek naby Boesmansriviermond in Maart 1488 en in die omgewing van Kaappunt op 6 Junie. Die naam Kaap van Goeie Hoop is van Dias afkomstig.
1652 – Eerste blanke kind aan die Kaap gebore
Bernert Willemsz Wijlant was die eerste blanke kind wat aan die Kaap gebore is. Omdat sy moeder swanger was, was sy ouers ook die eerste bewoners van die Kasteel. As sieketrooster was sy vader verantwoordelik vir die geestelike welsyn van die gemeenskap en as sodanig het hy Sondae, in die afwesigheid van ’n predikant, ’n preek uit ’n preekboek voorgelees, saans na ete ’n gebed gedoen en enkele verse laat sing, die kategese vir die jeug behartig, siekes besoek en hulle in hulle beproewing bygestaan en ander pastorale werk verrig. Hy kon egter nie die sakramente bedien en huwelike kerklik bevestig nie.
1820 – Sir Rufane Donkin lê die hoeksteen van die eerste setlaarshuis in Grahamstad.
1837 – Piet Retief ingesweer
Piet Retief word as goewerneur van die Trekkers ingesweer deur eerwaarde Smit. Hierdie gebeurtenis word op een van die friespanele in die Voortrekkermonument uitgebeeld.
1853 – Eerste vergadering van Nederduitsch Hervormde Kerk
Die eerste kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk vind plaas. Ds. Dirk van der Hoff is aangestel as eerste predikant.
1995 – Afskaffing van doodstraf in Suid-Afrika
Die afskaffing van die doodstraf in Suid-Afrika is op 6 Junie 1995 ná 343 jaar, deur die president van die Konstitusionele Hof, regter Arthur Chaskalson, aangekondig. Dit was die hof se eerste belangrike beslissing en was ’n eenparige besluit van al elf regters. Daar was toe 443 afwagtendes in die land se dodeselle nadat teregstellings sedert 1992 nie meer voltrek was nie. Sedert 1959 tot 1992 is 2949 mense gehang waarvan 14 vroue was.
GEBOORTES
1898 – Jacobus Johannes (Jim) Fouché, politikus en tweede Staatspresident van Suid-Afrika (1968–1975) († 23 September 1980)
Jim Fouché is op Wepener, Vrystaat gebore. Hy ontvang sy skoolopleiding op Rouxville en aan Grey Kollege en later aan die Hoër Jongenskool in die Paarl. Hy studeer verder aan die Universiteit van Stellenbosch. Gedurende die droogte van 1933 beywer hy hom vir ’n hulpskema vir die boere, en na samesprekings met genl. Hertzog en minister Havenga, word die Boerebystandswet deur die Parlement geloods. In 1933 voer Jim Fouché sy eerste benoemingstryd vir die provinsiale setel Smithfield. In 1941 verslaan hy mnr. K Pansegrouw, kandidaat van die Afrikanerparty, in die kiesafdeling Smithfield met 797 stemme. Vanaf Januarie 1951 tot Desember 1959 beklee hy die pos as Administrateur van die Vrystaat. Hy bedank in Desember 1959 om die portefeulje van Verdediging in die Verwoerd-kabinet te aanvaar. Die portefeulje Landou-Tegniese Dienste en Waterwese word op 5 April 1966 aan hom opgedra. In 1965 is hy eenparig as leier van die Nasionale Party in die Vrystaat verkies. Op 1 Februarie 1968 word hy verkies tot tweede Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika. Hy beklee hierdie amp totdat hy in 1975 deur dr. N Diederichs opgevolg word.
1931 – Joyce Barker, sopraan († 23 Mei 1992)
Joyce Barker was ’n dramatiese sopraan wat ’n aansienlike bydrae tot die groei en ontwikkeling van Suid-Afrikaanse opera gelewer het, beide as ’n internasionale operasangeres en, in haar latere jare, ’n onderwyseres. Sy het verskeie sangbeurse en internasionale pryse oor haar loopbaan ontvang. Sy verhuis in 1954 na Londen, waar sy haar by Sadler’s Wells en Covent Garden, asook in Ierland, as sopraan in operas en oratoria vestig. Sy keer in 1963 na Johannesburg terug, waar sy ’n leidende rol in die vestiging van professionele opera by die destydse kunsstreeksrade speel.
STERFTES
1997 – Anna Elizabeth (Elize) Botha, voormalige presidentsvrou (* 6 Mei 1922)
Anna Elizabeth Botha, gebore as Anna Elizabeth Rossouw, was die vrou van staatspresident Pieter Willem Botha, en gevolglik Suid-Afrika se eerste dame vanaf 1984 tot 1989. Mnr. Botha het van 1978 tot 1984 as die eerste minister van Suid-Afrika gedien.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
https://af.wikipedia.org/wiki/
Frikkie Wallis Facebook