7 MEI

GEBEURE

1652 – Skepe kom in Tafelbaai aan

Die skepe, Walvis en Oliphant kom in Tafelbaai aan. Hierdie skepe was oorspronklik deel van Jan van Riebeeck se vloot wat uit Nederland (Texel) na die Kaap vertrek het. Hulle was egter baie swaarder as die ander gelaai, en het daarom stadiger as die ander drie gevaar. Die skepe het heelwat siek mense aan boord gehad, en etlike matrose het ter see gesterf.

1662 – Jan van Riebeeck verlaat die Kaap

Jan van Riebeeck vertrek op hierdie dag tesame met sy gesin uit die Kaap na Batavia. Dit volg na sy baanbrekersstigtingswerk van tien jaar aan die Kaap.

1779 – Afgevaardigdes na Nederland

Drie afgevaardigdes, onder wie Tielman Roos, vertrek per skip, en in die geheim na Nederland. Die doel van hul reis was om hul griewe persoonlik aan die Here XVII voor te lê.

1880 – Die Tweetoringkerk in Bloemfontein ingewy

Toe dominee Andrew Murray ongeveer ’n jaar na die proklamering van die Oranjerivier-Soewereiniteit, nl. in 1849, tot predikant van Bloemfontein georden is, moes die ou skoolgeboutjie en later eerste raadsaal van die Vrystaatse Republiek ook as kerksaal dien. Drie jaar later is die eerste gebou ingewy wat die gemeente in sy eenvoud en nederigheid ’n kwarteeu sou dien. Teen die sewentigerjare kon die kerkgebou nie langer die groeiende gemeente van die Vrystaatse hoofstad huisves nie en is dit in 1887 gesloop om vir ’n sierlike nuwe kerkgebou plek te maak. Die beroemde baken en godshuis met twee torings het nou verrys. Op 7 Mei 1880 is dit luisterryk ingewy. In hierdie kerkgebou sou nie net hoog aangeskrewe predikante soos dominees PJJ Boshoff, JD Kestell en CR Kotze die gemeente voorgaan nie, maar hier is ook drie Vrystaatse Staatspresidente, JH Brand, FW Reitz en MT Steyn, plegtig ingehuldig, terwyl die beroemde Vrystaatse driemanskap, Steyn die staatsman, Christiaan de Wet, die krygsman, en Kestell, die godsman, al drie uit hierdie kerkgebou begrawe is.

1900 – Die laaste sitting van die Volksraad van die ZAR

Terwyl die Britse magte onder lord Roberts besig was om deur die Vrystaat noordwaarts na Transvaal op te ruk, het die Eerste Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) vir die laaste keer op 7 Mei 1900 in Pretoria vergader. Op die sitplekke van die lede wat sedert die aanvang van die Anglo-Boereoorlog sowat sewe maande vantevore oorlede is, is kranse geplaas. Generaal Piet Cronjé, LUR, wat in daardie stadium in krygsgevangeneskap was, se sitplek was met die vlae van die twee Boererepublieke gedrapeer. ’n Aantal lede, onder wie enkele gewondes, het van die slagveld af teruggekeer om die sitting by te woon. Ander was om oorlogsredes afwesig. Generaal Louis Botha en Koos de la Rey was byvoorbeeld besig om Roberts se oormag in hulle aantog na Transvaal te beveg. Anders as met die vorige Volksraadsittings wou dit voorkom asof die swart drag van die Volksraadslede by hierdie sitting uitdrukking gegee het aan die gevoel van ’n volk in rou. President Paul Kruger se “Aanspraak” is deur staatsekretaris FW Reitz voorgelees. Daarna het Kruger self aan die woord gekom om vanweë die toestand waarin die land hom bevind het, sy President-aanspraak verder toe te lig. In sy toespraak het Kruger gewys op die toegewings wat die ZAR met betrekking tot die Uitlanderstemreg gemaak het om ’n oorlog te voorkom. Die vyand het egter nie in regte belang gestel nie omdat hul ware oogmerk die inpalming van Transvaal was en hulle gevolglik nie die Boere wou toelaat om ’n selfstandige volk te wees nie. Kruger het nietemin steeds sy vertroue in die toekoms behou en met ’n onwrikbare geloof in die voortbestaan van die Boerevolk die Transvalers in die stryd aangemoedig met die woorde:

“Salisbury Zegt: Dit Volk moet niet bestaan, en God zegt: Dit volk sal bestaan.”

Op die 9de Mei het die Volksraad sy werksaamhede beëindig en is die afsluiting deur dominee HS Bosman waargeneem. In sy gebed het hy gevra dat God wat die harte van konings en volkere in sy Hand het, aan die twee Republieke ’n glorieryke vrede mag gee en dat Hy mag verhoed dat dit, soos wat daar gesê word, die laaste sitting van die Volksraad sou wees. So het die laaste, maar onvergeetlikste Volksraadsitting in die geskiedenis van die ZAR geëindig.

 

GEBOORTES

1972 – Piet van Wyk de Vries, sanger († 11 Mei 2023)

Piet van Wyk de Vries was ’n onafhanklike Suid-Afrikaanse liedjieskrywer wat in 1972 in Pretoria gebore is.

 

STERFTES

1923 – Abraham Petrus Carolus Duvenage, Afrikaanse professor in Wis- en Natuurkunde aan die PU vir CHO (* 1883)

1960 – Daniel Brink Bosman, Afrikaanse taalkundige (* 30 Januarie 1888)

Doktor Daniël Brink Bosman is in die distrik Boshof gebore. Sy skoolloopbaan op Boshof is deur die Anglo-Boereoorlog onderbreek. Gedurende die oorlog het hy ’n tyd lank saam met sy vader, wat weens doofheid nie op kommando kon gaan nie, gevlug. Ná die oorlog het hy op Franschhoek en Boshof skoolgegaan en in 1908 op Boshof gematrikuleer. Hy het sy studie aan die Grey-Universiteitskollege (die latere Universiteit van die OVS) voortgesit, waar hy in 1911 die MA-graad behaal het. Op aanbeveling van president MT Steyn, is ’n Herman Coster-studiebeurs aan hom toegeken, en in 1912 is hy na Nederland om aan die Rijksuniversiteit in Groningen verder te gaan studeer. In 1916 het hy tot dokter in die Lettere gepromoveer op ’n proefskrif met die titel “Afrikaans en Maleis-Portugees”. Bosman se proefskrif is die eerste wetenskaplike verhandeling in Afrikaans op die gebied van die Afrikaanse taalwetenskap. Daarin opponeer en verwerp hy die teorie van professor DC Hesseling dat Afrikaans ontstaan het as gevolg van ’n botsing van 17de-eeuse Nederlands met ’n Maleise Portugees aan die Kaap. In die plek daarvan stel hy sy teorie dat waar Afrikaans nie spontaan uit 17de-eeuse Nederlands ontwikkel het nie, dit toegeskryf moet word aan die invloed van die Nederlands van vreemdelinge. Hierdie proefskrif en die gevolglike lewendige polemiek tussen Bosman en Hesseling het groot belangstelling gewek vir die problematiek in verband met die verklaring vir die ontstaan van Afrikaans. Hierdie onderwerp het tientalle jare lank in die middelpunt van taalkundige aandag aan Afrikaans gestaan. Ná sy terugkeer in Suid-Afrika was Bosman ’n jaar lank lektor in Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch en daarna registrateur van die Grey-universiteitskollege in Bloemfontein. In 1921 is hy terug na Nederland vir navorsing in die Rijksarchief in Den Haag. In 1925 is hy aangestel as lektor aan die Universiteit van Kaapstad; in 1927 het hy hoogleraar in Afrikaanse en Nederlandse Taalkunde aan dieselfde universiteit geword, en hy het hierdie betrekking tot sy aftrede in 1948 beklee. Bosman was van 1918 tot 1948 lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en verskeie kere voorsitter daarvan. In die hoedanigheid het hy ’n belangrike bydrae tot verskillende uitgawes van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls gelewer. Hy was lid van die Akademie, waarvan hy van 1927 tot 1930 sekretaris was, en later het hy ook in die Raad van die Akademie gedien. Bosman het saam met IW van der Merwe die Tweetalige Woordeboek, Engels-Afrikaans (1931) en Afrikaans-Engels (1936) opgestel. Hierdie gesaghebbende werk, waaraan LW Hiemstra sedert 1962 meegewerk het, is meermale herdruk. As gesaghebbende taalhistorikus, was Bosman ideaal toegerus om met professor HB Thom mee te werk aan die uitgawe van Jan van Riebeeck se Dagboek, waarvan die eerste deel van die Van Riebeeck-feesjaar, 1952 en nog twee verdere dele tot 1957 verskyn het. Verder het talle taalwetenskaplike bydraes uit die pen van Bosman verskyn in die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns, De Nieuwe Taalgids, Die Huisgenoot en die Hertzog-annale. In 1947 het sy laaste uiteensetting van sy opvattings oor die ontstaan van Afrikaans in die tweede deel van Die Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner verskyn. In 1949 is hy aangestel as Gesant en later as Ambassadeur van die Suid-Afrikaanse Regering in Nederland. Hierdie amp het hy met waardigheid en groot welslae beklee. Na sy uittrede uit die diplomatieke diens het hy op sy plaas naby Somerset-Wes gaan woon, waar hy op 7 Mei 1960 oorlede is. Hy word onthou as een van die grondleggers van die wetenskaplike bestudering van Afrikaans, onkreukbare Afrikaner, eerlike en skerpsinnige denker en deeglike werker.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/