8 NOVEMBER
GEBEURE
1679 – Kommandandeur Simon van der Stel kamp aan die oewer van die Eersterivier en noem die plek Stellenbosch
Simon van der Stel en ’n paar Kaapse amptenare het op 8 November 1679 op ’n eiland in die latere Eersterivier oornag tydens ’n inspeksietog na die omgewing van vandag se Somerset-Wes. Geen kommandeur of goewerneur was in daardie stadium al daar nie en omdat daar so baie hoë bome was het hy dié eilandjie Stellenbosch genoem. Met sy terugkeer na die Kasteel , het hy aangekondig dat daar grond beskikbaar is vir mense wat hulle langs die rivier wou vestig. Teen 1680 was daar 8 gesinne en het die eilandjie in die Eersterivier se naam ook die naam van die nedersetting geword.
1837 – Onderhandelinge oor grond
Piet Retief en Dingaan onderhandel oor die Trekkers se toekomstige verblyf.
1887 – Die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) gestig
Die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) word in Johannesburg gestig om die ontploffing van handel te bevorder wat veroorsaak word deur die ontdekking van goud in die Witwatersrand. Die ontdekking van goud in 1886 het gelei tot die vorming van mynbou- en finansiële ondernemings met beleggers wat ’n sentrale fasiliteit benodig om toegang tot primêre kapitaal te verkry. Aanvanklik het die handel in ’n myner se tent plaasgevind en toe na die stalle op die hoek van Saur- en Kommissarisstraat verhuis. Benjamin Minors Wollan het op ’n vergadering van die direksie en lede van die Exchange en Chambers Company voorgestel dat die Johannesburgse Effektebeurs gestig moet word.
1914 – Afrikanerrebellie
’n Botsing tussen Christiaan de Wet se volgelinge en regeringstroepe onder bevel van majoor Frikkie Cronjé by Doornberg, naby die Sandrivier, vind plaas. Dit is nie moontlik om met sekerheid te sê wie eerste geskiet het nie. Daar is ongevalle aan weerskante, waaronder De Wet se oudste seun Danie en elf ander rebelle. De Wet lei self die begrafnisdiens van sy seun.
Colin Steyn en Charlie Fichardt ontmoet vir De Wet en hy beloof om na president Steyn toe te gaan.
Na ’n kortstondige weerstand deur regeringsmagte beset Jan Kemp en sy rebellekommando Kuruman op die oostelike rand van die Kalahariwoestyn. Hulle neem die regeringsmagte se perde en wapens en ammunisie af en kommandeer voedsel en ander voorrade.
GEBOORTES
1909 – Johanna Magdalena Raath, kultuurleier († 9 September 1995)
Johanna Magdalena Raath is gebore op Frankfort, OVS. As lid van die SAVF-hoofbestuur, word sy in 1947 presidente van die liggaam. Sy dien in verskillende Staatskommissies van Ondersoek. Sedert 1975 is sy lid van een van die komitees van die Publikasieraad. Sy tree by verskeie volksgeleenthede as spreekbuis van die vrou van Suid-Afrika op. Talle onderskeidings het haar te beurt geval, onder meer die medalje vir besondere dienste gelewer in Statebondslande, aangebied deur die Departement van Volkswelsyn. Die eerste Afrikaanse Moederkunde-Opleidingsentrum in Suid-Afrika word na haar genoem, en die bekende “Athlone”- kenteken vir Moederkunde-opleiding in Transvaal word vervang deur die “JM Raath”-wapen; die samestellers van die Afrikaanse Ensiklopedieë getitel Die Vrou, vereer haar by ’n spesiale geleentheid as “Die Vrou”, en sy ontvang die eerste toekenning deur die Federale Vroueraad vir besondere dienste op welsynterrein. Die Staatspresident se toekenning, Dekorasie vir Voortreflike Diens (DVD) is in 1979 aan haar toegeken.
1922 – Christiaan Neethling (Chris) Barnard, hartsjirurg en hartoorplantingspionier († 2 September 2001)
Chris Barnard was ’n suksesvolle hartchirurg wat roem verwerf nadat hy die wêreld se eerste suksesvolle mens-tot-mens-hartoorplanting in 1967 gedoen het. Hy skryf ook verskeie boeke.
STERFTES
1953 – Johannes van Melle, Nederlandsgebore Afrikaanse skrywer (* 11 Februarie 1887)
Johannes van Melle is in Goes, Nederland, gebore en was onderwyser, digter en romanskrywer. Van sy bekendste werke is Bart Nel, Verspeelde lente, Dawid Booysen, En ek is nog hy en Gedichten uit Zuid-Afrika. Uit sy verteltrant en die insigte wat sy karakters verwerf, blyk dit dat Van Melle ’n milde, positiewe en duidelike Christelike perspektief op die mens en die wêreld het. Hy is op 8 November 1953 in Johannesburg oorlede.
1997 – Dulcie van den Berg, aktrise (* 23 Augustus 1928)
Dulcie van den Bergh was ’n Suid-Afrikaanse aktrise. Gebore as Dulcie Smit. Sy was bekend vir haar TV-rolle as Stienie in Agter Elke Man en die ouma in Orkney Snork Nie. Sy het ook in verskeie rolprente gespeel en was veral ’n bekende stem op Afrikaanse radio.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.