10 JULIE

GEBEURE

1695 – Reuserotsstortings aan voorkant van Tafelberg

Reuserotsstortings het op 10 Julie 1695 aan die voorkant van Tafelberg voorgekom weens ’n verwoestende storm wat goewerneur, Simon van der Stel, in sy dagboek aangeteken het. Ook in latere dagboeke word daar gereeld na rotsstortings teen die hange van Tafelberg verwys wat gewoonlik in die Kaapse reënseisoen gevolg het. In die 1900’s is besondere ingenieursvernuf ingespan om die Chapmans Peak-pad van 9 km tussen Houtbaai en Noordhoek te bou. Die opdrag daarvoor is gegee deur die eerste Kaapse administrateur, sir Frederic de Waal en die bou van die pas van 114 draaie, het in 1915 aan die Houtbaaikant begin. Gevangenes het sewe jaar lank daaraan gewerk, met die bou van die Noordhoekkant af, wat die volgende jaar begin het. Die pad is in Mei 1922 opgestel en vernoem na John Chapman, ’n Britse seevaarder wat die gebied by vandag se Houtbaai, Chapman’s Chaunce (chance), genoem het. Nadat vier mense tussen 1998 en 1999 in rotsstortings op die pad omgekom het, is ’n kontrak van dertig jaar aan Entilini Concessions toegeken vir die instandhouding van Chapman’s Peak Drive.

1836 – William Cornwallis Harris maak gereed vir sy tog

William Cornwallis Harris kom in Algoabaai aan en begin met voorbereidings vir sy tog na die binneland.

1900 – Anglo-Boereoorlog: De Wet protesteer

In ’n brief aan Lord Roberts protesteer hoofkommandant Christiaan de Wet teen die onoordeelkundige vernietiging van private eiendom deur Britse troepe. Hy heg ’n lys van eiendomme aan wat naby Lindley, Heilbron en op Senekal en Ficksburg verwoes is.

1900 – De Basuin

De Basuin, ’n publikasie gedruk deur M Douws by Fouriesburg, word vir die eerste keer gedruk en uitgegee. De Basuin het slegs drie drukke beleef en was op beide kante van ’n enkelbladsy gedruk. Publikasiedatums was onder meer op 10, 17 en 24 Julie 1900.

 

GEBOORTES

1509 – Johannes Calvyn, Franse godsdienshervormer († 27 Mei 1564)

Johannes Calvyn is in Noyon, Frankryk, gebore. Hy studeer van 1525 in die teologie in Parys, maar word in 1528 ’n student in die regte in Orleans en later in Bourges, waar hy onder die invloed van die Protestantisme en Franse humanisme kom. In 1533, beïnvloed deur die lees van werke deur Luther, word hy ’n Protestant. Hy beskou dit as sy roeping om die kerk na die suiwer Bybelse model te hervorm. Weens vervolging vanweë sy godsdienstige oortuigings, vlug hy in 1535 na Basel. In 1536 verskyn die eerste uitgawe van sy groot leerboek, Institusie, wat vandag nog as handboek in die dogmatiek in Suid-Afrika gebruik word. Tot met sy dood op 27 Mei 1564 in Genòve skryf Calvyn sy beroemde kommentare oor byna al die Bybelboeke. Van 1555 is Calvyn die onbetwiste leier in Genòve. In 1559 verskyn die laaste uitgawe van sy Institusie. Hy stig die beroemde Akademie van Genòve, waar heelparty teoloë en kerkleiers hul opleiding ontvang. Daardeur, maar ook deur sy publikasies en talle briewe aan leiers in talle lande, oefen dié groot teoloog, kerkleier en opvoedkundige wêreldwyd invloed uit. Sy invloed as teoloog (ook deur sy leerlinge) is sigbaar in die drie Afrikaanse susterkerke se drie belydenisskrifte (die Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls). Dit is ook sigbaar in hul stelsels van kerkregering, op die manier waarop die erediens ingerig word, die patroon en melodieë van die kerksang, die vorm en inhoud van die preke, en op die gebede en formuliere.

1797 – Petrus Lafras (Piet) Uys, Voortrekkerleier († 11 April 1838)

Piet Uys, Voortrekkerheld, is op 10 Julie 1797 op Potteberg, Swellendam, gebore. In September 1834 is hy die leier van ’n geselskap van twintig wat as gesante van die inwoners van Albanië en Uitenhage die moontlikheid om na Natal te emigreer, ondersoek. Hulle het tot aan die Tugelarivier gereis en in Maart 1835 met ’n gunstige rapport teruggekeer. Hierna het die Sesde Grensoorlog uitgebreek, waarna Uys en ander Trekkers onder leiding van sy vader, Jacobus Uys, uit die Kaapkolonie emigreer. Saam met Andries Hendrik Potgieter en Gerhardus Marthinus Maritz, trek Piet Uys in November 1837 te velde teen die Matebele in Transvaal en behaal ’n groot oorwinning. In Februarie 1838 word die Natalse Trekleier, Pieter Retief, vermoor deur Zoeloes, wat daarna op die treklaers toeslaan. Leierloos nader hierdie mense Uys en Potgieter om hulp. Hulle trek op teen die Zoeloes, maar Uys en sy mense word by Italeni in ’n lokval gelei, waar Piet, sy dapper seun Dirkie, en agt ander mans sneuwel.

1873 – Daniël de Waal, regter († 19 Februarie 1938)

Daniël de Waal was ’n Suid-Afrikaanse regter wat as Regter-president van die Transvaalse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika gedien het.

1940 – Dawie de Villiers, Springbok-rugbyspeler, ambassadeur en kabinetsminister († 23 April 2022)

Dawie de Villiers was van 1980 tot 1986 die Minister van Handel en Nywerheid in Suid-Afrika. Gedurende 1989 beklee hy die amp Minister van Mineraal- en Energiesake, sowel as die portefeulje Openbare Ondernemings. Hy was ook ’n Springbokrugbykaptein.

 

STERFTES

1972 – Stephanus Johannes (SJ) du Toit, onderwysman en outeur (* 18 Junie 1891)

Doktor Stephanus Johannes du Toit was nie net ’n bekende in onderwyskringe nie, maar het ook met verskeie werke naam as skrywer gemaak. Hy is in die distrik Boshof gebore en gaan vir die eerste keer op 12-jarige ouderdom skool toe. Hy matrikuleer in 1910 aan die Grey-kollege en behaal drie jaar later die graad BA aan die GUK – en mettertyd ’n MA in Nederlands en Engels. In 1920 vertrek hy na Europa, waar hy die doktorale eksamen in die Nederlandse taal- en letterkunde met lof aan die Universiteit van Amsterdam aflê. Daarna promoveer hy met ’n proefskrif oor die Afrikaanse volkspoësie. Hy word onderwyser, skoolhoof, inspekteur en in 1945 hoofinspekteur van onderwys in die Vrystaat. Na sy aftrede werk hy in die woordeboekkantoor op Stellenbosch. Onder sy werke is daar As gode fluister of Die verhaal van die Wolsungs (1944) en Feaciese nagte (1905). Hy is op 10 Julie 1972 oorlede.

1983 – Gert Daniël Scholtz, historikus en skrywer (* 15 Augustus 1905)

Doktor GD Scholtz was ’n gerekende Afrikanergeskiedkundige wat die Anglo-Boereoorlog beskou het as ’n stryd om die vryheid en onafhanklikheid van die Boere. Sy boek, Die Tweede Vryheidsoorlog 1899-1902, is deur Bridget Theron, ’n lektor aan die Universiteit van Suid-Afrika, in Engels vertaal as The Anglo-Boer War 1899-1902. Die boek is ’n toeganklike werk wat eggo’s van die Amerikaanse oorloë van onafhanklikheid dra.

1985 – Hilgard Muller, politikus van die Nasionale Party, burgemeester van Pretoria verkose lid van die parlement in 1958 en aangestelde minister van buitelandse sake (* 4 Mei 1914)

Hilgard Muller was ’n politikus van die Nasionale Party, burgemeester van Pretoria (1953-1955), verkose lid van die parlement in 1958 en aangestelde minister van buitelandse sake na die aftrede van Eric Louw in 1964. Hy het afstand gedoen van beide poste in 1977.

2013 − Willem Cruywagen, kabinetsminister en administrateur van Transvaal (* 9 Maart 1921)

Doktor Willem Cruywagen was ‘n minister van onderwys en die administrateur van Transvaal. Hy was ook lid van verskeie kultuur- en erfenisorganisasies en het as beskermheer van die Voortrekkers gedien.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

Frikkie Wallis Facebook

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/