
10 MEI
GEBEURE
1864 – MW Pretorius neem die eed van die amp as president van die hele Transvaal
1878 – Pres. Jan Brand lê hoeksteen huidige Tweetoringkerk in Bloemfontein
1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Sandrivier
Ná hewige gevegte onttrek die Boere hulle en Roberts beset Ventersburg en die stasie.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Aanval op Mafeking wat tot 12 Mei duur
1961 – Verkiesing van CR Swart as eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika
Op hierdie dag is Charles Roberts Swart (gebore op 5 Desember 1894) as eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika verkies. Sy openbare lewe het in 1919 begin toe hy organiserende sekretaris van die Nasionale Party in die Oranje-Vrystaat geword het. In 1923 het hy Volksraadslid geword, in 1948 Minister en in 1960 Goewerneur-generaal. Van 31 Mei 1961 af was hy amptelik staatspresident. In 1968 het hy afgetree en in 1972 is die Dekorasie vir Voortreflike Diens aan hom toegeken. Die amp van Staatspresident het in 1961 verskil van dié van die Boererepubliek waar mense soos Paul Kruger en MT Steyn regerings- sowel as staatshoofde was. Hy word vir sewe jaar tydens ’n gesamentlike sitting van die Senaat en Volksraad met ’n meerderheid van stemme in die amp verkies en is normaalweg nie herkiesbaar nie. Hy moet die Senaat of die Volksraad ontbind, ministers op aanbeveling van die premier aanstel, eerbewyse toeken, buitelandse verteenwoordigers op aanbeveling aanstel of ontvang, die Parlement laat vergader of ontbind, staatsverdrae bekragtig, krygswet afkondig of herroep, oorlog verklaar of vrede sluit, oortreders begenadig en as simbool van die staat die belange en eer van die land dien en beskerm. Die kabinetslede vorm saam met die staatspresident die Staatspresident-in-rade, maar die staatspresident tree eintlik op volgens advies van en minstens in oorleg met die kabinetslede. Die Staatspresident-Sport-toekenning (sedert 1966) en die Staatspresidentwag (sedert 1967) is van groot betekenis in ons land. Die opvolger van CR Swart was JJ Fouche (April 1968 tot April 1975), dr. N Diederichs (April 1975 tot Augustus 1978), BJ Vorster (Okt. 1978 – Jun. 1979 en M Viljoen (Jun. 1979). By aanvaarding van die amp lê die Staatspresident ’n ampseed voor die Hoofregter in die teenwoordigheid van ander hooggeplaastes tydens ’n besondere en plegtige seremonie af – gewoonlik in ’n kerkgebou en waardeur die religieuse betekenis van gesag bevestig word.
1975 – Eerste amptelike televisie-uitsending
Die heel eerste amptelike televisie uitsendings vind in Suid-Afrika plaas.
1995 – Grootste hysbakongeluk
In die grootste hysbakongeluk in die geskiedenis het 104 mynwerkers op 10 Mei 1995 in ’n skag by die Vaal Reefs-goudmyn by Orkney na hul dood geval. ’n Kommissie van ondersoek het bevind dat die ongeluk veroorsaak is deur ’n lokomotief wat met ’n rytuig vir personeel (9,7 ton) 1 700 m ondergronds, op die dak van die hysbak met mynwerkers beland het en hulle toe ’n verdere 500 meter ver geval het. Die impak was so erg dat die hysbak tot net ’n derde van sy oorspronklike grootte verfrommel is.
GEBOORTES
1614 – Zacharias Wagenaer, tweede Kommandeur van die Kaap die Goeie Hoop († 12 Oktober 1668)
Zacharias Wagenaer was die tweede kommandeur aan die Kaap die Goeie Hoop en het Jan van Riebeeck op 9 Mei 1662 opgevolg, twee dae na laasgenoemde se vertrek na sy nuwe posisie in Batavia.
1853 – Alwyn Petrus Burger, predikant († 30 Oktober 1937)
Ds. Alwyn Petrus Burger is op Montagu gebore. Saam met ds. AP Kriel, van Langlaagte, kan ds. Burger as die grondlegger van die inrigtingsorg van die barmhartigheidsdiens van die Transvaalse NG Kerk gereken word. Op Middelburg rig hy in 1902 ’n kinderhuis vir oorlogswese op, en as voorsitter van die Commissie voor Armblanken (1906), verrig hy belangrike dienste om verarmde landgenote te rehabiliteer. Hy sterf op 30 Oktober 1937 op Middelburg, Tvl.
1882 – Johan Lambertus Machiel Franken, kultuurhistoriese skrywer († 20 Oktober 1959)
Johan Lambertus Machiel Franken is op 10 Mei 1882 in Pretoria gebore. As kultuurhistoriese skrywer het prof. Franken op grond van deeglike argiefnavorsing waardevolle bydraes oor die Afrikaanse taal, Franse Hugenote aan die Kaap en die algemene Suid-Afrikaanse geskiedenis gelewer. Sy Taalhistoriese Bydraes is ’n waardevolle naslaanwerk. Die Argiefjaarboek van 1978 woord aan prof Franken gewy en bevat sy waardevolle bydraes oor die Franse Hugenote aan die Kaap.
1915 – Christiaan Frederik (Beyers) Naudé, teoloog en anti-apartheidstryder († 7 September 2004)
Beyers Naudé was ’n dominee en ’n prominente anti-apartheidsrolspeler. Alhoewel hy aanvanklik apartheid verdedig het, het hy later sy siening verander en het hy sy oortuigings daarteen openbaar gemaak. Nadat hy in apartheidsjare deur sommige as verraaier gesien is, is hy uiteindelik vereer as strydder teen apartheid, met onder meer strate in Randburg, Pretoria, Potchefstroom, Rustenburg, Lichtenburg en Middelburg en ’n plein wat na hom vernoem is. Ereburgerskap van Johannesburg is ook aan hom toegeken.
1945 – Koos du Plessis, sanger, liedjieskrywer en digter († 15 Januarie 1984)
Koos du Plessis was ’n musikant wat toonaangewend was in die Afrikaanse musiek-en-liriekbeweging van die 1970’s en 1980’s. Hoewel hy kommersieel nie baie suksesvol was as uitvoerende kunstenaar nie, het die albums wat hy in sy leeftyd uitgereik het, ’n nuwe rigting in Afrikaanse musiek ingelui en word dit vandag as van die invloedrykstes in die taal se musiekgeskiedenis beskou. Tientalle verwerkings van sy komposisies is sedertdien deur verskeie ander Afrikaanse kunstenaars opgeneem en ’n hele paar het huldeblyk-albums aan hom opgeneem.
STERFTES
1940 – Paul Christiaan de Groot, akteur (* 11 Januarie 1878)
Paul de Groot word as die vader van Afrikaanse toneelkuns beskou.
Hy is in die destydse Nederlands-Oos-Indië (vandag Indonesië) gebore en het in 1924 na Suid-Afrika gekom. Nadat hy lesse ontvang het om sy Afrikaanse uitspraak te verbeter, het hy in 1925 met sy toneelopvoerings in Afrikaans begin toe hy saam met Afrikaanse amateurs begin optree het. Die volgende jaar was hy vir die eerste keer deel van ’n beroepstoneelgeselskap saam met onder meer Wena Naudé en die dramaturg AJ Pienaar. In 1926 het sy geselskap met dié van Hendrik Hanekom saamgesmelt. Wena Naudé en André Huguenet het later deel van dieselfde geselskap geword.
Die sukses van sommige van sy toneelreise het hom in staat gestel om ’n studiereis na Nederland en ’n toer deur die destydse Belgiese Kongo en Nederlands-Oos-Indië te onderneem. Nadat sy geselskap ontbind het, is hy getroud en hy het eers in Londen en daarna Den Haag gewoon. Hy is op 10 Mei 1940 tydens die Japanse besetting van Nederlands-Oos-Indië in die Tweede Wêreldoorlog oorlede.
1987 – Sita (mev. SS de Kock), skrywer (* 10 Junie 1898)
Sara Susanne de Kock (geb. Bosman) is ’n Wes-Transvaler van geboorte, wat haar skoolopleiding op Potchefstroom voltooi het. Haar eerste pennevruggie het op 24 Maart 1924 verskyn. Tien jaar lank is sy redaktrise van die kinderdeel van Die Brandwag en dien daarna in die redaksies van verskillende tydskrifte. Meer as honderd boeke het uit haar pen verskyn, waaronder talle romans, jeug- en kinderboeke, kortverhale, novelles, genealogiese werke, toneelstukke, operettes, ens. Twee van haar jeugboeke Bennie-Boet en Janette is met die Scheepersprys vir jeuglektuur bekroon. Sy het ook verskeie tekste vir operettes geskryf wat deur die befaamde Vlaamse komponis Armand Preud’hommé getoonset is.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
Frikkie Wallis Facebook