2 DESEMBER

GEBEURE

1836 – Die eerste Voortrekker-volksraad gekies

In die Kaapkolonie, van waar die Trekkers afkomstig was, het die grensboere geen aandeel in die regering van die land gehad nie. Dit is dus te begrype dat die Trekkers totaal onervare was ten opsigte van doeltreffende landsbestuur. Omdat die Trekkergroepe enigsins geïsoleerd van mekaar die binneland ingetrek het, was die noodsaak van ’n vaste regeringstelsel nie so dringend nie. Die Trekkergroepe het egter nie in wanorde die binneland ingetrek nie, en daarom kan aangeneem word dat elke groep, volgens die eise van omstandighede, sy eie maatreëls getref het om sake so glad moontlik te laat verloop. Wat hierdie maatreëls was, weet ons nie, omdat dit nêrens ’n skriftelike neerslag gevind het nie.

Na mate die verskillende Trekkergroepe in die Transoranje aangeland en in mekaar se onmiddellike omgewing begin woon het, het daar egter ’n behoefte aan groter eenheid en beter begrip vir mekaar se omstandighede ontstaan, en hiervoor was ’n regeringsvorm van een of ander aard onontbeerlik. Die eerste poging hiertoe was teen die einde van 1836, toe ’n saamtrek van AH Potgieter en Gerrit Maritz se volgelinge op 2 Desember 1836 in die laer van Potgieter plaasvind en die eerste Burgerraad saamgestel is. Na onderlinge beraad is hier besluit “om door eene algemene volkstem Rechters aan te stellen” en is by meerderheid van stemme sewe “Rechters” gekies wat as “eene Wetgevende lichaam” bekend sou staan. Teenstrydig soos dit dalk klink, was die liggaam tog gebonde om wette en reglemente wat deur ’n algemene vergadering bepaal sou word, stiptelik te gehoorsaam. Behalwe sy beperkte wetgewende bevoegdheid, sou die liggaam ook uitvoerende gesag hê en selfs die regspraak beoefen. Maritz is by die geleentheid tot “Regter-President” verkies en aan die hoof van die regspraak gestel. Potgieter sou as “leger-kommandant” sy opdragte van die Raad van sewe ontvang, behalwe op kommando, waar hy die hoogste gesag gevoer het. Dit is duidelik dat Potgieter, wat minder volgelinge as Maritz gehad het, deur die uitslag van die verkiesing in ’n ondergeskikte posisie geplaas is. Dit het hom voorlopig nie gehinder nie, en hy het hom in die uitslag berus. Ten spyte daarvan kon die reëling van 1836 nie die toets van die tyd deurstaan nie. Nie alleen was die persoonlikhede van Potgieter en Maritz te uiteenlopend nie, maar was die lojaliteit van die “onderdane” te persoonsgebonde.

Verskil van standpunt tussen die twee leiers, het tot die volgelinge deurgewerk en hulle in twee kampe verdeel, waardeur die regeringstelsel kragteloos gemaak is. Vroeg in 1837 het Piet Retief met ’n aansienlike gevolg hom ook in die omgewing van Winburg gevestig. Sy aankoms het ’n reorganisasie van die bestuur genoodsaak, wat op 17 April 1837 op Winburg plaasgevind het. By die geleentheid is Potgieter heeltemal oor die hoof gesien en die belangrikste bestuursfunksie aan Retief toegewys. Die nuut saamgestelde Raad was daarna verantwoordelik vir die opstelling van die eerste Voortrekkergrondwet, wat uit nege artikels bestaan het en op 6 Junie 1837 aan die Vetrivier met Retief se beëdiging as goewerneur in werking gestel is. Die Winburg-reëling van 1837 het ook nie lank bly bestaan nie. Die Vrystaat was nog nie bestem om ’n blywende tuiste van die Voortrekkers te word nie, want in dieselfde jaar het die weë uitmekaar gegaan toe Potgieter na die Oorvaalse gebied uitgewyk het, terwyl Retief en Maritz oor die Drakensberg Natal ingetrek het. Albei groepe het egter bestanddele van die Raad van Winburg en die Vetrivierse Grondwet met hulle saamgeneem, waar ’n verder konstitusionele ontwikkeling plaasgevind het.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Utrecht, Tvl; Goedehoop, OVS.

GEBOORTES

1767 – Lord Charles Somerset, goewerneur van die Kaap die Goeie Hoop († 18 Februarie 1831)

1854 – Louwrens Penning, skrywer († 12 Januarie 1927)

Die Nederlandse skrywer Louwrens Penning se simpatieke en realistiese uitbeelding van die Boerevolk se vryheidstryd in talle boeke het grootliks bygedra tot die vriendskap wat duisende Nederlanders vir Suid-Afrika gevoel het. Hy is op 2 Desember 1854 gebore. Sy werke is omtrent almal in Afrikaans vertaal en het die jonger nasate van die Boerevolk van 1900 se jare eweneens sterk besiel.

1915 – Marais Viljoen, Suid-Afrikaanse politikus en vyfde Staatspresident van Suid-Afrika (1979–1984) († 4 Januarie 2007)

Toe die nuwe Suid-Afrikaanse grondwet in 1984 in werking getree het, is die ampte van seremoniële staatspresident en eerste minister vervang met ’n uitvoerende staatspresident. Marais Viljoen, die laaste persoon wat hierdie amp beklee het, is op 2 Desember 1915 in Robertson in die Wes-Kaap gebore. Hy het aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad skoolgegaan maar buitemuurs gematrikuleer. Op 1 Oktober 1937 het hy hom as verslaggewer aangesluit by Die Transvaler, waarvan die latere Eerste Minister, dr. HF Verwoerd, destyds die redakteur was. Hy is in 1953 tot Volksraadslid vir Alberton verkies en het later gedien as adjunkminister van arbeid en mynwese (1958-1966), minister van arbeid en kleurlingsake (1966 tot 1970) en minister van pos- en telekommunikasiewese (1970 tot 1976). Van 1976 tot 1979 was hy die president van die senaat. Nadat dr. Nic Diederichs in 1978 oorlede is, het Viljoen as staatspresident waargeneem totdat die voormalige Eerste Minister, adv. John Vorster, in dié amp aangestel is. In 1979 is hy egter in Vorster se plek tot die amp van nie-uitvoerende staatspresident verkies. Hy het hierdie amp beklee totdat die nuwe grondwet daarmee weggedoen het. Marais Viljoen is op 4 Januarie 2007 in die ouderdom van 91 jaar oorlede.

STERFTES

1948 – Hendrik Johannes (Hendrik) van der Bijl, wetenskaplike en “vader” van Yskor (* 23 November 1887)

Hendrik van der Bijl was die dryfkrag agter die stigting van Evkom (deesdae Eskom) en die nywerheidsreus Yskor.

Hendrik Johannes van der Bijl is in Pretoria gebore en het aan die Hoër Jongenskool Franschhoek gematrikuleer. Daarna het hy aan die Victoria-kollege op Stellenbosch gestudeer en sy BSc met fisika, chemie en wiskunde as hoofvakke met lof geslaag. Van 1909 tot 1913 het hy in Halle en in Leipzig in Duitsland gestudeer. Hier het hy ’n PhD behaal met ’n tesis oor die gedrag van suiwer vloeistof onder die invloed van radioaktiwiteit.

In 1912 is hy as dosent in fisika aan die Königlich Sächsische Technische Hochschule in Dresden aangestel. Sy navorsing het die aandag getrek van prof. Robert A Millikan, op wie se aandrang Van der Bijl as navorsingsfisikus by die American Telephone and Telegraph Company en die Western Electric Company aangestel is. Hy het van 1913 tot 1920 in die Verenigde State van Amerika gewoon.

In 1920 het hy op versoek van genl. Jan Smuts na Suid-Afrika teruggekeer as wetenskaplike en tegniese raadgewer vir die regering. Die Elektrisitieitsvoorsieningskommissie (Evkom) is in 1923 gestig as ’n nasionale elektriesekragstelsel, met Van der Bijl as voorsitter. Evkom vas verantwoordelik vir die oprigting van kragsentrales by onder meer Witbank en Colenso en vir die voorsiening van elektrisiteit op die platteland.

Hy het deur die staalvervaardigingsentra van Europa getoer en Yskor in 1928 begin. Na die ontdekking van ystererts by Thabazimbi is die African Metals Corporation (Amcor) in 1937 naby Vereeniging gestig. Van 1940 tot 1946 was Van der Bijl verantwoordelik vir die twee nywerhede wat van die grootste belang vir enige nywerheidstaat is, naamlik elektrisiteit en staal. Teen 1944 het die staalaanleg by Vereeniging so groot geword dat behuising vir die werknemers ’n probleem geword het. Die dorp Vanderbijlpark, wat na hom vernoem is, is gevolglik gestig.

Hy is op 2 Desember 1948 in die ouderdom van 61 jaar aan kanker oorlede.

1972 – Sir Hesperus Andrias (Pierre) van Ryneveld, Suid-Afrikaanse militêre bevelvoerder en vlieënier (* 2 Mei 1891)

Generaal Sir Pierre van Ryneveld was ’n militêre bevelvoerder en vlieënier. Hy was die stigtersbevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Lugmag.

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/