3 SEPTEMBER
GEBEURE
1800 – Graaff-Reinetse rebelle gevonnis
In 1795 het rebelle van Graaff-Reinet hulle teen Kompanjie-gesag verset, landdros HCD Maynier verjaag en ’n “vrye Republiek” verklaar – onderdanig slegs aan die Republiek van Nederland. Met die eerste Britse verowering van die Kaap in 1795 het die rebelle ook die gesag verwerp, maar hulle is later verplig om hulle te onderwerp. Toe veldkommandant Adriaan van Jaarsveld in 1799 op aanklag van vervalsing gearresteer is, het groot protes gevolg, maar die daaropvolgende onrus is deur die owerheid onderdruk. Agtien rebelle is aangekla en meer as ’n jaar in die kasteel opgesluit voordat hulle verhoor is. Marthinus Prinsloo en Adriaan van Jaarsveld is ter dood veroordeel, terwyl twaalf ander verban sou word – die meeste van hulle lewenslank. As gevolg van die tussenkoms van genl.-maj. Dundas, die waarnemende goewerneur, is die teregstelling uitgestel. Begenadiging is vir al die gevangenes by die Britse owerheid voorgestel. Van Jaarsveld sterf egter in die Kasteel as gevolg van kwale wat noodlottig deur ’n val vererger is, terwyl hy op sy ontslag wag.
1841 – Die Kaapse goewerneur sir George Napier weier om die onafhanklikheid van Natalia te erken
1900 – Die Britse anneksasie van Transvaal is in die Kaapse Parlement aangekondig
1901 – Anglo-Boereoorlog: Jan Smuts lei kommando
Die 31-jarige Jan Smuts lei ’n kommando van ongeveer 250 man oor die Oranjerivier in ’n aanval op die Brits-beheerde Kaapkolonie in Suid-Afrika. Teen skemeraand loop die kommando hul vas teen ’n gewapende anderskleurige mag. Die geveg duur byna die hele nag en drie Burgers sneuwel gedurende die geveg.
Die kommando besoek later die gevegsterrein met die doel om die drie man wat gesneuwel het te begrawe. Tot hul skok vind hulle dat die drie gesneuweldes se liggame erg vermink is.
1914 – Afrikanerrebellie
Christiaan de Wet besoek Koos de la Rey op sy plaas en oorreed hom om die parlementsitting in Kaapstad by te woon.
1919 – Vryheidsdeputasie keer terug
Op hierdie dag het die Vryheidsdeputasie onder leiding van genl. JBM Hertzog uit Europa in Durban geland, bitter teleurgestel oor die afloop van hulle onderneming. Hertzog, bygestaan deur NC Havenga, DF Malan, FW Spies, EG Jansen en Gey van Pittius (sekretaris) het, aangemoedig deur pres. Wilson (VSA) se beklemtoning van die selfbeskikkingsreg van klein nasies as beginsel grondslag vir die vredesonderhandelinge na die Eerste Wêreldoorlog, ook na die vredeskonferensie in Parys (Frankryk), 1919, gegaan om namens Suid-Afrika se nasionaalgesindes te pleit vir die herstel van die voormalige Boererepublieke se onafhanklikheid. Die deputasie het slegs die eerste minister, Lloyd George (Brittanje) te spreke gekry, wat aan hulle meegedeel het dat Suid-Afrika reeds ten volle oor sy eie sake beslis, en dat genl. Louis Botha, Eerste Minister, wat ook saam met genl. Jan Smuts op die konferensie was, alleen namens die volk van Suid-Afrika kan praat. Hoewel hy niks bereik het nie, het hierdie ervaring Hertzog gesterk en aangemoedig om hom vir die formele erkenning van Suid-Afrika se onafhanklikheid te beywer.
1919 – Jan Smuts word Eerste Minister
Generaal Jan Christian Smuts begin sy eerste termyn as premier van die Unie van Suid-Afrika na die dood van genl. Louis Botha op 27 Augustus 1919.
1958 – Dr. HF Verwoerd word premier
Dokter HF Verwoerd volg adv. JG Strijdom op as premier.
1984 – Nuwe grondwet van Suid-Afrika word ingestel
Die nuwe grondwet van Suid-Afrika, wat voorsiening maak vir ’n uitvoerende staatspresident, ’n parlement met drie rade, ’n sentrale kabinet en ’n ministersraad vir elke raad en ook ’n raad van president, word ingestel.
GEBOORTES
1747 – Philip Albertus Myburgh, steunpilaar († 3 Junie 1813)
Philip Albertus Myburgh is op Meerlust, distrik Stellenbosch, gebore. Komende van ’n invloedryke boer het sy verslag van Mei 1775 tot die verskuiwing van die oosgrens na die Groot Visrivier gelei en van 1784 tot 1788 was hy een van die Kaapse Patriotte se steunpilare. Hy is op 3 Junie 1813 op Meerlust oorlede.
1762 – Meent Borcherds, leraar, skrywer en amateurkomponis († 28 Februarie 1832)
Hy was ’n predikant uit Oos-Friesland, word in 1786 predikant van Stellenbosch en in 1826 Moderator van die Sinode van die NG Kerk. Op versoek van die redakteur van die Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tydschrift (NZAT), skryf hy die geskiedenis van Stellenbosch. Voor sy dood boekstaaf hy ook die geskiedenis van die volksplanting aan die Kaap vir die vroegste tydperk (1652 tot 1673). Hy publiseer ’n Hollandse gedig “De maan; een leerdigt” wat as die eerste letterkundige voortbrengsel wat aan die Kaap gedruk is, beskou word. Ondanks hulle literêre gebreke, is sy gedigte uit kultuurhistories oogpunt uniek. ’n Aantal minuette is ook deur hierdie interessante figuur gekomponeer. Hy is op 2 September 1762 in Oos-Friesland, Nederland, gebore en sterf sewentig jaar later op Stellenbosch.
1811 – Carolus Johannes (Karel) Trichardt, seun van Louis Tregardt, die Trekkerleier († 25 April 1901)
Karel Tregardt is op Boschberg, tans Somerset-Oos gebore. Onder sy vader, die Voortrekkerleier Louis Tregardt (1783 tot 1838), het hy aan die Groot Trek deelgeneem. Na hulle verblyf in die Soutpansberg het Tregardt sy vader na Delagoabaai vergesel. Daarvandaan het hy van 1838 tot 1840 verskillende seereise langs die Oos-Afrikaanse kus onderneem en plekke soos Inhambane, Sofala en Quilemane en hul hinterlande besoek, maar ook Abbesinië, Zanzibar en Madagaskar se nedersettingsmoontlikhede verken. In April 1840 reis hy oor land van Delagoabaai na Port Natal, waar hy in 1842 aan die stryd tussen die Voortrekkers en die Britse troepe deelneem. Hy het daarna na die Transvaal verhuis, en is op 25 April 1901 op Middelburg Transvaal oorlede. Luitenant-kolonel SPE Trichardt, bevelvoerder van die Staatsartillerie van die Zuid-Afrikaansche Republiek, was sy seun. Tregardt was die enigste Voortrekker wat as reisiger feitlik die hele ooskus van Afrika leer ken en hierdie kennis aan sy landgenote oorgedra het, met die gevolg dat hulle besluit het om Suid-Afrika hul permanente vaderland te maak. Carolus was die eienaar van die plaas Trichardtsfontein, waarop die dorp Trichardt aangelê is.
1946 – George Ballot, akteur († 30 September 2023)
George Ballot was ’n verhoog-, TV- en rolprentakteur. Hy is veral bekend vir sy rol as Skollie in die TV-drama Vyfster en die rolprent Vyfster: die slot.
1951 – Ed van Wyk (Troebadoer), countrysanger († 23 Mei 2023)
STERFTES
1880 – Eerw. Daniël Lindley, eerste leraar van die NG gemeente Pietermaritzburg (* 24 Augustus 1801)
Hy is in Pennsilvanië, VSA, gebore en was ’n geordende predikant toe hy in 1835 as sendeling na Suid-Afrika gekom het. Van 1841 tot 1847 was hy Voortrekkerleraar, Pietermaritzburg, en as sodanig moes hy die hele Natal, Transoranje en Transvaal geestelik bearbei. In 1845 het sy gemeente ongeveer 20 000 siele getel. Hy het dikwels lang reise onderneem om die Voortrekkers geestelik te bedien en het onder ander 1 383 Voortrekkerkinders gedoop. Hy was bemind, en die Voortrekkers het ’n hoë dunk van hom gehad. Hy is op 3 September 1880 in New Jersey, VSA, oorlede.
1925 – Melt Jacobus Brink, digter en dramaturg (* 16 Mei 1842)
Melt Jacobus Brink is in Kaapstad gebore en sterf daar op 3 September 1925. Hierdie gewilde Afrikaanse Vader Cats, wat ’n kultuurfaktor van groot betekenis in sy eie tyd was en ’n skakel vorm tussen die Hooghollands waaruit hy spruit en die Afrikaans waartoe hy geleidelik oorgaan, se letterkundige werksaamhede bestaan uit ’n groot aantal toneelstukke en digbundels, waaronder sewe bundels Grappige stories en ander Versies (1893 tot 1909), Reis naar Kaapstad van Oom Gijsbert van Graan (1904), Die storie van Klaas Windvoël, Die ou Hotnot (1910) en drie bundels Nationale en Afrikaanse gedigte in Kaaps-Hollands (1916 tot 1920).
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.