3 DESEMBER
GEBEURE
1837 – Eerste kerkraad in die OVS bevestig
Die Voortrekkers was pioniers in dié sin dat hulle die beskawingspad na die binneland van Suid-Afrika te midde van groot gevare en ontberings met heldemoed, dapperheid en durf oopgebreek het. Ook ’n ander karaktertrek van die pionier is by hulle te bespeur, naamlik ’n sterk neiging tot selfstandigheid en individualisme, wat dikwels tot koppigheid en partyvorming gelei het en taamlik probleme in die Voortrekkerlewe veroorsaak het, veral ten opsigte van effektiewe organisasie en administrasie. Maar die ander minder goeie karaktertrekke van pioniers, naamlik wetteloosheid en losbandigheid wat gewoonlik gepaard gaan met (en voortspruit uit) veragting van God en sy gebod, soek ’n mens tevergeefs by ons Voortrekkermense. Hoewel die Kaapse Kerk die Groot Trek nie erken het nie, bly die Voortrekkers gelowige mense met die vaste oortuiging dat “de openbare godsdienst de eerste grondslag moet zijn waarop een Christelijke maatschappij moet gegrondvest worden”. Elke trekkerleier was nie alleen in burgerlike sin “hoof” van sy groep nie, maar was ook verantwoordelike hoofman wat godsdienstige sake betref. Hy het self nie die eredienste gelei, die sakramente bedien en huwelike bevestig nie, maar hy het wel verantwoordelikheid daarvoor aanvaar en gebruik gemaak van manne soos Lindley, Sarel Cilliers en Erasmus Smit. Laasgenoemde was nie so gelief nie, veral by leiers soos Potgieter en Uys, ondermeer omdat hy nie ’n ten volle geordende predikant was nie, omdat hy aan die Londense Sendinggenootskap verbonde was en vanweë sekere persoonlikheidsgebreke. Hoewel die Voortrekkers deur die binding van die kerk aan die owerheid in die Kaap min ondervinding van kerklike organisasie gehad het, het hulle reeds op 16 November 1836 besluit tot die daarstelling van “eene goede Godsdienstige en burgerlijke maatschappelikjke inrichting”. Op 8 Februarie 1837 is ’n kerkraad, bestaande uit ouderling JS Maritz (wat veral siekebesoek en huisbesoek moes doen) en diakens Sarel Cilliers en C Viljoen gekies en bevestig. Omdat daar geen predikant was nie, het hierdie kerkraad nooit byeengekom nie. Nadat Retief se trek by dié van Maritz in Thaba Nchu aangekom het, is daar op 17 April 1837 ’n algemene vergadering gehou om die sake op kerklike en politieke terrein te orden. Na veel teenstand, is Erasmus Smit wel op 21 Mei 1837 as predikant georden, en ses maande later, op 3 Desember 1837, is die eerste kerkraad wat werklik gefunksioneer het en ’n heilsame invloede gehad en orde geskep het, bevestig, nl. Francois Retief en Carel van der Merwe as ouderlinge en C Liebenberg en R Dreyer as diakens.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag by Buffelspoort (Vanwykspruit), Mooinooi
1914 – Afrikanerrebellie
Manie Maritz en Jan Kemp onderhandel op Keetmanshoop met die goewerneur van Duitswes-Afrika, T Seitz.
1967 – Die wêreld se eerste hartoorplanting
’n Weergalose prestasie in die mediese geskiedenis van die wêreld is die nag van Saterdag 3 Desember 1967 in ons eie land behaal. In ’n middernagtelike operasie van langer as vyf uur het ’n span hartchirurge en mediese tegnoloë van die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad die eerste hartoorplanting in ’n mens gedoen.
’n Joodse sakeman van Seepunt, Louis Washkansky (53), was die eerste ontvanger van ’n oorgeplante hart. Weldra sou sy naam in groot opskrifte in elke nuusblad van die wêreld verskyn, saam met dié van die leier van die hartspan, prof. dr. Christiaan Neethling Barnard.
GEBOORTES
1736 – Abraham Josias Sluysken, kommandeur aan die Kaap (1793-1795) († 18 Januarie 1799)
Hy word onthou as een van die heel eerste Vryburgers aan die Kaap en het ’n leidende rol in die Vryburger-gemeenskap gespeel.
1804 – Johan Stephen Simeon Ballot, predikant en boekeliefhebber († 1868)
Johan Stephen Simeon Ballot is op Tulbagh gebore, waar sy vader die leraar was. In 1820 het hy hom by Leiden ingeskryf as student in die regte en teologie, en hy word dus die eerste seun van ’n Afrikaanse pastorie wat dieselfde beroep as sy vader gevolg het. Na sy terugkoms in 1827 het hy predikant geword op George, waar hy tot met sy aftrede in 1862 sou arbei. Daar ontwerp hy en hou hy ook toesig oor die bou van die moederkerk. Daarbenewens het hy ook skole, ’n sendinggemeente en ’n openbare biblioteek op George gestig. Na hy oorlede is op 5 November 1868 is hy in die kerkhof agter die kerk begrawe. Soos sy vader was hy ook besonder lief vir boeke en het hy sy vader se versameling, sowel as dié van sy skoonvader, ds. JJ Kicherer, aansienlik uitgebrei.
1873 – Hester Debora Maria van Heerden, eerste Afrikaanse vroulike joernalis († 16 Januarie 1947)
Hester Debora Maria van Heerden (née Rabie) is te Fauresmith, Vrystaat, gebore en sy sterf op 16 Januarie 1947 in Potgietersrus (tans Mokopane), Limpopo. Toe Die Brandwag op 31 Mei 1910 vir die eerste keer gepubliseer is, het sy begin met ’n artikelreeks vir vroue en kinders wat later uiters gewild was. Sy het die skuilnaam “Tannie” (later “Tannie van die Brandwag”) gebruik. Daar word gereken dat sy die eerste Afrikaanse vroulike joernalis was en ook die eerste vrou wat Afrikaanse kinderboeke geskryf het.
1909 – Wim Hartman, skrywer († 29 Januarie 1966)
Wim Hartman was ’n Afrikaanse skrywer wat onder sy eie naam, asook skuilname soos Tant Salie, Forona Bosman, Louwrens de Kock en Selma le Roux geskryf het.
STERFTES
1948 – Jannie Hofmeyr, adjunkpremier en onderleier van die Verenigde Party (* 20 Maart 1894)
Jan Frederik Hendrik (Jannie) Hofmeyr was ’n Suid-Afrikaanse geleerde en politikus. Hoewel hy beskou is as te verlig vir sy tyd, was die algemene opvatting dat genl. Jan Smuts hom uitgesoek het om hom op te volg as leier van die Verenigde Party.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.