15 JULIE

GEBEURE

1727 – Huwelik

Helena W. ten Damme tree in die huwelik met onderkoopman Hendrik Swellengrebel. Hendrik Swellengrebel het 12 jaar later goewerneur aan die Kaap geword. Die dorp, Swellendam, is na die egpaar vernoem.

1842 – Die Republiek Natalia onderwerp hulle aan Britse Gesag

1867 – Ontruiming van Schoemansdal

Schoemansdal was die noordelikste dorpie van die ou ZAR, geleë langs die Soutpansberg, sowat 15 km wes van die huidige Louis Trichardt. Dit is in 1848 deur kmdt. AH Potgieter aangelê, wat ook daar oorlede en begrawe is. Die dorp, wat in 1855 reeds deur byna 2000 blanke inwoners in 278 huise bewoon is, het ook ’n kerkgebou, ’n skool en ’n pastorie gehad. Schoemansdal, so in 1855 genoem na kmdt.genl. Stephanus Schoeman, het spoedig ’n welvarende sentrum geword vanweë die ivoorhandel en die handelsverbinding wat deur Joao Albasini met Mosambiek onderhou is. Vanaf 1864 het dominee NJ van Warmelo as NH predikant daar gestaan en ’n groot bydrae gedoen om Schoemansdal ’n sentrum van blanke beskawing te maak. Vanaf die middel jare sestig het spanning tussen die inwoners en die swart bevolking in dié omgewing opgelaai en tot ’n uitgerekte oorlog gelei, wat vanweë ’n gebrek aan deurtastende optrede deur die owerhede nie beëindig kon word nie. Die krygsraad, onder leiding van kmdt.genl. SJP Kruger, het besluit die dorp en distrik moet ontruim word. Op 15 Julie 1867 het die inwoners Schoemansdal verlaat. Na die ontruiming is die dorp in sy geheel aan die brand gesteek en verwoes.

1901 – Anglo-Boereoorlog: Mafeking-konsentrasiekamp

Dr. K Franks, kampdokter by die Mafeking-konsentrasiekamp, berig dat die kamp “oorweldig” is met 1 270 vroue en kinders na die skoonmaak van die West-Transvaal. Gebrek aan fasiliteite dra by tot die swaarkry wat die nuwe aankomelinge ervaar.

1914 – Ons Moedertaal, orgaan van die Afrikaanse Taalvereniging (ATV), verskyn

Ons Moedertaal was ’n suiwer Afrikaanse maandblad wat die Stellenbosch se tak van die Afrikaanse Taalvereniging (ATV) gepubliseer het. Jong geleerdes, soos dr. BB Keet, dr. Tobie Muller en prof. JJ Smith, het dit gebruik om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder, soos om te pleit vir ’n Afrikaanse Bybelvertaling en die erkenning van Afrikaans naas Nederlands as amptelike taal. In Mei 1916 verenig Ons Moedertaal met De Huisgenoot. Later word dit Die Huisgenoot, ’n weekblad wat vandag nog gelees word. Ongelukkig het dit reeds vanaf die negentigerjare ’n tydskrif geword wat nie meer die Afrikanervolk se belange dien nie, maar die kommunistiese regime net so terwille is as wat die meeste dagblaaie en weekblaaie in daardie tyd geword het.

1960 – Eerste Boeing 707

Die eerste Boeing 707-vliegtuig kom in Suid-Afrika aan, wat ’n nuwe era in lugvaart in Suid-Afrika inlui.

 

GEBOORTES

1879 – Ferdinand Postma, eerste rektor van die PU vir CHO († 5 November 1950)

Ferdinand Postma is op Aliwal-Noord gebore. Hy matrikuleer aan die Teologiese Skool Burgersdorp in 1896 en woon in dieselfde jaar die eerste Afrikaanse Taalkongres in die Paarl saam met sy vader by, waar ’n lewenslange vriendskap met Totius begin. Sy huis- en skoolopvoeding skerp by hom die liefde vir die Gereformeerde geloof en Afrikaanse volk en taal in, ’n bodem waaruit sy idealisme en daadkrag teen groot teenslae in, steeds gegroei het. Na deelname aan die Heidelbergse Kommando in 1899, gaan hy na die Vrije Universiteit van dr. A Kuyper te Amsterdam. In 1904 aanvaar hy die professoraat in die Literariese Afdeling van die Teologiese Skool op Burgersdorp, wat die volgende jaar na Potchefstroom verplaas word. Hy doktoreer in 1914 in die Klassieke Lettere aan die Vrije Universiteit, Amsterdam, en doseer selfs, naas rektorale pligte, Latyn en Grieks tot aan sy dood op 4 November 1950, aan die vooraand van die selfstandigwording van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Hy het, naas sy ongeëwenaarde bydrae op universitêre gebied, binne die destydse Unisa ook steeds ’n leidende rol gespeel in die Tweede Afrikaanse Taalbeweging en was ’n vurige voorstander van Christelik-nasionale onderwys. Ferdinand Postma was op akademies-universitêre gebiede een van die grootste seuns van Suid-Afrika, wat saam met sy kollegas ’n unieke rol gespeel het in die wording van die Afrikaanse volk gedurende die eerste helfte van hierdie eeu.

1924 – Bartholomeus Jacobus (Bartho) Smit, dramaturg, skrywer, regisseur en uitgewer († 31 Desember 1986)

Bartho Smit was ’n Afrikaanse skrywer, digter en dramaturg wat deel van die Sestiger-beweging was.

Bartholomeus Jacobus Smit is in die Potchefstroom-distrik gebore en het aanvanklik daarna gestreef om ’n beroepsbokser te word. Daarby was hy ’n kranige atleet. In 1944 het hy aan die Universiteit van Pretoria begin studeer en toe reeds ’n toneelvereniging gestig wat stukke wat hy self geskryf het, opgevoer het. In 1947 het hy sy BA-graad verwerf. Hy was van 1946 af reeds deel van die redaksie van 𝘋𝘪𝘦 𝘝𝘢𝘥𝘦𝘳𝘭𝘢𝘯𝘥, waar hy om die beurt algemene verslaggewer, hofverslaggewer, subredakteur en resensent vir kuns, teater en musiek was. In hierdie tyd het hy ’n kamer met die skrywer Jan Rabie gedeel en gereeld kontak met die digter Peter Blum gehad.

Hy is op 29 Januarie 1949 met Kita Redelinghuys getroud, maar hierdie huwelik was kinderloos. In 1951 het hy sy MA-graad deur buitemuurse studie aan die Universiteit van Pretoria verwerf, waarna hy in 1952 na Europa vertrek het om aan die Sorbonne-universiteit in die Franse hoofstad Parys gaan studeer het. In hierdie tyd het hy Frans leer praat. Omdat verskeie Afrikaanse skrywers Parys destyds besoek het, het hy Etienne Leroux, Uys Krige, Anna Neethling-Pohl en Elsa Joubert ontmoet. Hy het ook ’n hegte vriendskap met Jan Rabie en Marjorie Wallace gehad.

In 1962 is hy aangestel as hoof van algemene publikasies by Afrikaanse Pers (later Perskor), en het omstrede werk waarvoor niemand anders kans gesien het nie, soos 𝘋𝘪𝘦 𝘺𝘴𝘵𝘦𝘳𝘬𝘰𝘦𝘪 𝘮𝘰𝘦𝘵 𝘴𝘸𝘦𝘦𝘵 van Breytenbach, 𝘙𝘰𝘰𝘬 𝘦𝘯 𝘰𝘬𝘦𝘳 van Ingrid Jonker en 𝘔𝘦𝘯𝘴-𝘢𝘭𝘭𝘦𝘦𝘯 van Jan Rabie uitgegee. Hy het ’n beduidende rol in die tydperk van streng sensuur vertolk en beheer van die Afrikaanse tak van die Johannesburgse Skrywersvereniging oorgeneem.

Hy is op 31 Desember 1986 in die ouderdom van 62 jaar oorlede.

1931 – Gene Louw, politikus († 12 Oktober 2015)

Gene Louw was ’n Suid-Afrikaanse politikus. Hy was lid van die Nasionale Party, parlementslid vir Durbanville en die Paarl, administrateur van die Kaapprovinsie (1979–1989), minister van binnelandse sake (1989–1992), nasionale onderwys (1989–1990), openbare werke (1992–1993) en verdediging (1992–1993).

1939 – Christian Johan (Chris) Barnard, befaamde skrywer en rolprentmaker († 28 Desember 2015)

Chris Barnard was ’n Afrikaanse skrywer wat bekendheid verwerf het vir onder meer romans, kortverhale, hoorspele, draaiboeke en televisiedramas.

Christian Johan Barnard het in 1957 aan die Hoërskool Nelspruit gematrikuleer waarna hy aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer het. In 1960 het hy sy BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Kunsgeskiedenis as hoofvakke behaal. Op universiteit was hy aktief betrokke by die publikasies van die universiteit, hy was redakteur van die joolblad , die literêre jaarblad en die gidsblad vir eerstejaarstudente. Op dramagebied was hy voorsitter van die toneelvereniging en hy was verantwoordelik vir die onderhandelinge om die regte te verkry om Bartho Smit se toneelstuk 𝘋𝘰𝘯 𝘑𝘶𝘢𝘯 𝘰𝘯𝘥𝘦𝘳 𝘥𝘪𝘦 𝘉𝘰𝘦𝘳𝘦, waarin hy ’n rol vertolk het, op te voer. Hy en Smit het mekaar só ontmoet en lewenslank vriende gebly.

Na afloop van sy studies het hy as joernalis by 𝘋𝘪𝘦 𝘝𝘢𝘥𝘦𝘳𝘭𝘢𝘯𝘥 gewerk, eers in Pretoria en daarna in Johannesburg. Onder Bartho Smit se aanmoediging het hy van 1964 tot 1965 in Parys gewoon, en sy hegte vriendskap met Breyten Breytenbach het hom aangemoedig om ernstig te begin skryf. Deur Barnard se bemiddeling het Afrikaanse Pers-boekhandel, waar Smit uitgewer was, Breytenbach se 𝘒𝘢𝘵𝘢𝘴𝘵𝘳𝘰𝘧𝘦𝘴 en 𝘋𝘪𝘦 𝘺𝘴𝘵𝘦𝘳𝘬𝘰𝘦𝘪 𝘮𝘰𝘦𝘵 𝘴𝘸𝘦𝘦𝘵 uitgegee.

Hy het ’n beduidende rol in die tydperk van streng sensuur gespeel en toe André P Brink se 𝘒𝘦𝘯𝘯𝘪𝘴 𝘷𝘢𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘢𝘢𝘯𝘥 in 1974 verbied is, het hy ’n fonds gestig ter verdediging van die boek en sterk bewoorde verklarings oor die aangeleentheid uitgereik. In 1987 is hy verkies as voorsitter van die Afrikaanse Skrywersgilde, maar het die volgende jaar bedank omdat dit te veel met sy skryfwerk ingemeng het.

Barnard, wat met die aktrise en rolprentregisseur Katinka Heyns getroud was, is op 28 Desember 2015 in die ouderdom van 76 jaar aan ’n hartaanval oorlede.

 

STERFTES

1932 – Cornelis Jacob (CJ) Langenhoven, skrywer en politikus (* 13 Augustus 1873)

CJ Langenhoven was ’n regsgeleerde, koerantredakteur en Afrikaanse skrywer, digter en dramaturg. Hy het as skrywersname CJ Langenhoven en Sagmoedige Neelsie gebruik. Sy rol in die Afrikaanse literatuur en kultuurgeskiedenis was formidabel. As Volksraadslid en senator speel hy ’n groot rol in die erkenning van Afrikaans as amptelike landstaal.

1944 – Frans Oerder, skilder (* 7 April 1867)

Frans Oerder is in Rotterdam gebore en kom in 1890 as jong kunstenaar na die ZAR, waar hy onder uiters moeilike omstandighede ’n bestaan moes maak. Hy het hom heeltemal met sy nuwe vaderland vereenselwig, want by die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sluit hy hom by die Boerekommando’s aan. Sy sketse van Boere-tipes en Boere-aktiwiteite te velde, is van ons seldsaamste en kosbaarste Africana. Dit lewer tegelykertyd blyk van ’n suiwer waarnemingsvermoë en groot tekentalent. Oerder het ook die Suid-Afrikaanse landskap leer ken, en dit is merkwaardig hoe ’n Europees-geskoolde kunstenaar die gees van die Suid-Afrikaanse landskap kon begryp en so treffend kon weergee. Daardeur het hy die grondslag vir ’n egte Suid-Afrikaanse landskapskilderkuns gelê. Deur sy blomstudies, stillewens en portrette het hy egter ook groot bekendheid verwerf. Sy realistiese kuns het baie bygedra tot die begrip en waardering van die skilderkuns by die Afrikaner. Hy is op 15 Julie 1944 in Pretoria oorlede.

1951 – Helena Lochner, skrywer (* 15 September 1892)

Helena Johanna Francina Lochner is op Moorreesburg gebore. Hierdie kunstenares en baanbreker-skryfster vir die Afrikaanse kind, is op 15 Julie 1951 op Bloubergstrand oorlede. Op aandrang en met aanmoediging van adv. JHH de Waal het sy artikels en kinderverhale begin skryf op ’n tydstip toe daar ’n groot behoefte aan geskikte Afrikaanse kinderlektuur bestaan het. Vanaf 1930 het daar meer as 56 kinderboeke uit haar pen verskyn, almal met selfgemaakte gekleurde buiteblaaie en illustrasies en grootdruk sodat die kleinspan dit self kon lees.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/